Vermiste kleuter (3) dood in motor gevind

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-WES. – Die liggaam van ‘n vermiste kleuter (3) wat vroeër die maand verdwyn het, is die naweek dood in ‘n motor gevind.

Maria Nkabinde, polisiewoordvoerder, sê die motor het op ‘n voertuigherstelperseel gestaan.

Die polisie op Brits het aanvanklik die gemeenskap se hulp versoek om Khothatso Paul Rampa (3) van die informele nedersetting Msholozi naby die winkelkompleks Green te help soek.

Vermiste kleuter dood gevind

Volgens Nkabinde is die kleuter laas op Vrydag 9 Julie 2021 omstreeks 14:00 deur sy ouma gesien toe hy gaan speel het. Hy het egter nooit teruggekeer huis toe nie.

Gedurende sy verdwyning het Khothatso ‘n geel sweetpakbaadjie, ‘n blou sweetpakbroek en ‘n paar wit tekkies aangehad. Hy is maer en het kort hare met ‘n donker velkleur.

Enigiemand met inligting wat kan lig werp op die oorsaak van die kleuter se dood kan die ondersoekbeampte, sers. Aubrey Ndubane, van die Brits-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) kontak by 082 557 1904 of Crime Stop by 08600 10111.

LEES OOK: Heidelberg-hospitaal soek familie van onbekende pasiënt

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.