Gewapende roof op plaas buite Oos-Londen

Deel hierdie storie / Share this story

OOS-LONDEN. – Die polisie is op soek na drie onbekende verdagtes na ‘n gewapende roof Saterdagmiddag op ‘n plaas in Gonubie, Oos-Londen plaasgevind het.

“Volgens inligting is ‘n 39-jarige vrou omstreeks 14:00 deur drie verdagtes genader toe sy by die plaashek wou uitry. Een van die verdagtes het glo ‘n vuurwapen op haar gerig en haar gedwing om terug te keer na die plaashuis en kantoor,” volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder.

Daar is sy aangerand en beroof. Die verdagtes het haar glo beveel om die kluis vir hulle te wys, terwyl hulle haar terselfdertyd met ‘n vuurwapen op haar bolyf geslaan het. In die kantoor het hulle na bewering een vuurwapen, twee skootrekenaars, handsak, twee selfone en ‘n beursie met ‘n onbekende bedrag kontant geneem.

Die verdagtes, wie se ouderdom onbekend is, het die plaas verlaat met die voertuig van die slagoffer, ‘n wit Prado. Geen skote is tydens die voorval geskiet nie en geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Die voertuig van die vrou is later ongeveer 3 km van die plaas af verlate gevind. ‘n Saak van gewapende roof is vir ondersoek geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die polisie versoek enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes om die Gonubie-polisiekantoor of die Crime Stop-nommer 08 600 10111 te skakel.

LEES OOK: Vrou vermoor glo kêrel na argument

LEES OOK: Dokter bring nag in tronksel deur na hy aandklokreël oortree

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.