‘Ramaphosa moet ingryp in KZN,’ sê VF Plus-leier

Deel hierdie storie / Share this story

“Ramaphosa moet ingryp in die gewelddadige onluste en vernietiging van eiendom en dit in die openbaar veroordeel.

“Die huidige situasie in die land van geweldpleging, protes en die vernietiging van eiendom, is totaal onaanvaarbaar en kan afstuur op totale anargie.”

So sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, oor die chaos wat steeds in KwaZulu-Natal heers ná die hof Vrydag oudpresident Jacob Zuma se aansoek geweier het.

Zuma is Woensdag in hegtenis geneem na hy hom aan die gereg oorgegee het om sy 15 maande tronkstraf te begin uitdien.

“Ek doen as leier van die VF Plus ‘n dringende beroep op pres. Cyril Ramaphosa wat moet ingryp en hierdie optrede in die openbaar veroordeel en op die veiligheidsmagte in Suid-Afrika om daadwerklik in te gryp om wet en orde te handhaaf en om alles moontlik te doen om die onrussituasie te ontlont.”

Veral in KwaZulu-Natal is die situasie buite beheer met paaie wat totaal ongaanbaar is. Op die N3-snelweg naby Mooirivier is 23 vragmotors, baie met hul vrag, teen Saterdagoggend reeds aan die brand gesteek.

“Die vernietiging wat met die opstande gepaard gaan, is vernietigend vir die land se reeds haglike ekonomiese situasie. Dit skaad die land se beeld in die buiteland en sal voornemende beleggers afskrik om hier te belê,” sê Groenewald.

“Daar is tans baie boodskappe wat op sosiale media die rondte doen wat geweld aanhits terwyl die vernietiging van eiendom, vragmotors wat aan die brand gesteek word en oproerige byeenkomste daagliks voorkom.

“Ewe ontstellend is stemboodskappe wat in besonder lui dat witmense die teikengroep van die geweldpleging moet wees aangesien dit die sogenaamde wit monopoliekapitaal is wat president Cyril Ramaphosa beheer en hom gebruik.

“Ongeag die oorsprong van die boodskappe moet dit baie ernstig opgeneem word aangesien dit grootskaalse rassegeweld aanhits en mense sonder twyfel daardeur beïnvloed kan word en dit kan gebruik as verkoning om geweld te pleeg.

“Dit is onaanvaarbaar dat die interne gevegte van die ANC nou ontwikkel het in openbare onrus en geweld.

“Onskuldige mense word geteiken en witmense word die sondebokke gemaak vir die land se probleme en die Zuma-aangeleentheid en daarom moet daadwerklik en ferm opgetree word teen die oortreders en diegene wat hulle aanhits.”

Lees ook: Zuma se inhegtenisname ‘n ‘hartseer oomblik’, sê Cyril

Lees ook: KYK: Chaos in KZN na hof Zuma se aansoek weier