As die rympie maar net waar kon wees, was vele seker al stinkskatryk. Ongelukkig het hierdie wens nog vir baie min arm Namakwalanders bewaarheid geword. Inteendeel, baie is so arm soos veldmuise en struggle om kop bo stormagtige waters te hou.
Die week het die struggle ‘n hoogtepunt bereik toe 37 “kleinskaalmyners” lelik met die gereg gebots het. Areas wat polisie geteiken het, was Port Nolloth, Kleinzee, Oubeep, Bontekoe en Nuttabooi, volgens polisiewoordvoerder, kol. Mashay Gamieldien.
Aanvanklik was Oubeep en Nuttabooi Dinsdag geteiken waar die myners vir die gesogte blink steentjies gesoek het .
Tydens die operasies hier is 37 verdagtes vir onwettige mynbou-aktiwiteite gearresteer. Vyf voertuie is tydens die multi-dissiplinere operasies gekonfiskeer.
Op 3 Augustus moet 28 verdagtes na waarskuwingsbevele in die Port Nolloth-hof verskyn.
Woensdag het die taakspan die Bontekoe-hostel, naby Komaggas, geteiken. Hier het hulle vyf mans gevang wat sonder wettige dokumentasie was.
Tydens die polisie se operasies is verskeie delwersgereedskap soos generators, grawe, hamers, en kraggereedskap gekonfiskeer. Beslag is ook op verskeie sakke met moontlik diamantdraende gruis gelê.
Intussen het die ander nege ongedokumenteerde verdagtes (agt mans en ‘n vrou) reeds in die Springbokhof verskyn. Hulle moet weer op Maandag 12 Julie in die hof hier verskyn.
Die operasies is deur die waarnemende provinsiale kommissaris van polisie, brig. Hennie van Rensburg, gelei. Verskeie eenhede van Springbok, Upington en Kuruman het aan die operasies deelgeneem.
Die suksesse van die wetstoepassers was egter ‘n pynlike nederlaag vir die plaaslike myners en gemeenskappe. Baie het die polisie gekritiseer wat glo “net op sagte teikens toeslaan”.
Kapt. Swartbooi van die Namas het verwytend vertel dat dit n swart dag was vir kleinskaalse myners. Verder glo hy dat die polisie die arm mense onnodig viktimiseer en verarm. Hy het so vermaan: “Die polisie moet eerder fokus op harde misdaad soos die onlangse koelbloedige skietdood van ‘n jong delwer aan die hand van ‘n sekuriteitsmaatskappy. Ook moet hulle fokus op geweldaddige roof en dwelmhandel.”
Hy het verder versoek dat die staat die delwers moet bystaan by wyse van die uitreik van mynboupermitte. Volgens hom het die situasie in Namakwaland nou onuithoubaar geword, want die gemeenskappe is werkloos.
Hy het gesê: “Hierdie werkloosheid kan lei tot n volskaalse verset teen die regering. Derhalwe versoek ek dat die polisie die delwers se voertuie en gereedskap teruggee. Hulle behoort die wapens, wat so openlik hierdie week by Nkandla vertoon was, te gaan afvat.”
Cathy Esau het gesê dat die mense ordentlike werke moet kry, dan sal hulle nie onwettig delf nie. Volgens haar moet die delwers honger gaan slaap terwyl die politici “soos varke eet”. Verder dink sy dat die diamante God se skepping is wat aan almal behoort.
Mona Milford het vertel dat die delwers uitgelos moet word, omdat hulle slegs vir hulle families kos op die tafel wil sit.
“Die polisie behoort hulle te skaam. Hulle moet diegene gaan arresteer wat R500 biljoen gesteel het.”

Lees ook: Kunstenaar uit die Noord-Kaap op pad na Amerika
Lees ook: KYK: Boervrou moker dief wat selfoon probeer steel



