Hierdie sagtebandboek van 32 bladsye is oorlopens toe vol met prettige feite en aktiwiteite waarin die jongspan hulle aan die insekwêreld kan verlustig. Die aktiwiteite is so ontwerp dat dit saam met ’n volwassene gedoen word en dus sorg vir waardevolle saamweestyd. Kinders wat ’n lewendige belangstelling het in wriemelende en vlieënde gediertetjies soos onder meer naaldekokers, sprinkane, bye, kewers, miere en skilpadbesies gaan dol wees oor hierdie interessante en kleurvolle boek wat deur dr. Mia Oosthuizen in Afrikaans vertaal is.
Die inhoud is baie leersaam en die “Het jy geweet?”-afdelings interessant. Boonop trek die pragtige foto’s ook dadelik die aandag. Die aktiwiteite is maklik en lekker om aan te pak, en die materiaal wat benodig word is geredelik bekombaar. Kinders leer speel-speel deur van eierboks-goggas en naaldekokerknypers tot heuningkoekies in blomvorms te maak. Hulle kan ook skilpadbesie-klippies verf en na ’n mierkoningin soek. So tussendeur die groot pret ontwikkel hulle geheue, handvaardigheid, geletterdheid en syfergeletterdheid.
Goggas is deel van die Prettige feite-boek reeks. Die ander titels in hierdie reeks is Van my kop tot my tone, Haaie en ander seediere, Plaasdiere en Wonders van die woud. Dit is geskik vir kinders vyf jaar en ouer. Dorling Kindersley is die oorspronklike uitgewer van die Engelse titels, maar LAPA Uitgewers publiseer die Afrikaanse weergawes in ’n bekostigbare gehalteformaat.
Bestel jou kopie van Goggas (ISBN:978-0-7993-9055-1) hier.
Lees ook: Afrikaanse fiksie vir Vadersdag – deel 2



