Ek glo daarin om boeke as geskenke te gee. Nie net kan jy ’n persoonlike boodskap voorin skryf nie, maar die ontvangers kan nadat hulle die boeke gelees het nog vir baie jare daarmee spog op hulle boekrakke en dit selfs nalaat aan erfgename. Hier onder gee ek nóg voorstelle van Afrikaanse boeke (fiksie) van verskillende genres wat vaders moontlik sal geniet om as Vadersdag geskenke te ontvang. Hierdie boeke is dan ook almal deur mans geskryf. My voorstelle is nie in volgorde van voorkeur nie.
Die dooies praat nie (Peet Venter) – LAPA
Hierdie is die sesde titel in die opwindende Thys Krige-reeks. Hoewel fiktief lewer die boek sosiale en kulturele kommentaar oor ’n belangrike tema soos grondonteiening en word dit dus ook as opvoedkundig van aard beskou. Thys red op ’n reënerige nag ’n vrou wat met haar motor in ’n sloot beland en daarvan oortuig is dat sy agtervolg word. Sy vra hom om ’n belangrike dokument te skandeer en aan ’n ondersoekende joernalis te stuur – die einste joernalis op wie Krige verlief is. Kort voor lank is daar ’n moord en dan begin die poppe dans. Soos altyd het geweld vir Thys uitgesoek en kry diegene by wie hy betrokke raak seer en gaan dood.
Uittreksel: Daarom word die jeug opgeroep om in hulle getalle by die “final struggle” aan te sluit en hulself te bevry en bemagtig. Die opleiding van die aanvoerders deur spesialiste met jare se ondervinding nader voltooiing. ’n Lys van plekke waar en die datum waarop aangemeld kan word vir mobilisasie, sal later gesirkuleer word (53).
Meer oor die outeur: Peet Venter se mees onlangse boeke sluit Soos ’n diep waterkuil, Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei, Plasenta, Lem en Brand in. Die dooies praat nie is sy sewentiende boek. Hy skryf graag speur rillers en geskiedkundige verhale.
Die dooies praat nie beslaan 287 bladsye. Kry jou kopie hier.

’n Hart is so groot soos ’n vuis (P.P. Fourie) – Kwela Boeke
Hierdie aangrypende boek vertel die verhaal van ’n seun, Paul, wat groot geword het in ’n gesin waar sy pa, ’n pil- en drankverslaafde, sy ma siklies wreedaardig aangerand het en ook vir hóm probeer doodmaak het. Hy kyk terug op sy stormagtige kinderjare, die desperate vlugtogte weg van onmiddellike doodsgevaar af, die sporadiese versoening tussen sy ouers, die alewige leuens oor waar sy ma aan haar beserings gekom het, hoe dié wat dalk iets vermoed het anderpad gekyk het, en die effek wat hierdie gesinsgeweld op hom as kind en later as volwassene gehad het.
Uittreksel: My pa is al taamlik hoog teen die tyd dat hy besef sy rewolwer is weg. Hy is woedend, buite homself. Ek het dit weggesteek, dit en die motorsleutels; ek verstaan al te goed dat opiate en vuurwapens saam niks goeds voorspel nie. My pa slaan my dwarsoor my rug, so hard dat ek struikel, en beveel my om dit onmiddellik te gaan haal, anders sal ek spyt wees (26).
Meer oor die outeur: P.P. Fourie se kortverhale het voorheen verskyn in Tydskrif vir Letterkunde, Scrutiny 2, New Contrast, Ons Klyntji, en ook LitNet. Sy nie-fiksie boek The Political Management of HIV and AIDS in South Africa: One burden too many? was op die 2006-langlys vir die Alan Paton-toekenning.
’n Hart is so groot soos ’n vuisbeslaan 256 bladsye. Kry jou kopie hier.

Vermoedelik dood (Johan Kruger) – Protea Boekhuis
Hierdie spanningsverhaal vol intrige speel af in die 1990’s. Indien jy gefassineer voel deur hofsake en hoe vlymskerp regsgeleerdes mekaar die stryd aansê, sal jy Vermoedelik dood nie sommer neersit nie. Advokaat Gerhard Coetzee, wat sukkel om sy tragiese verlede af te skud,moet met weinig meer as sy vermoedens en nagmerries werk wanneer hy vir Lawyers for Human Rights verskyn om die aansoek om doodsverklaring van ene Joseph Brzinski alias die huurmoordenaar Ben Brandt te opponeer, al dui al die getuienis daarop dat Brzinsky spoorloos in die myn verdwyn het en iewers in ’n ongebruikte skag of ondergrondse meer tot sy einde gekom het. Coetzeese kliënt is slegs in besit van omstandigheidsgetuienis, en nou het hy net 21 dae om met bewyse vorendag te kom. Geheime organisasies, ’n opleidingsplaas vir rekrute, en moorde vorm deel van dié opwindende verhaal.
Uittreksel: Dis die spanning van alles waardeur jy is. Eers die moorde op jou vrou en kinders, toe jou eie verhoor. Dis g’n grap om op ’n klag van moord tereg te staan nie. Maar jy is onskuldig bevind en jy moet die lewe in die oë kyk en voortgaan. “Laat dit oor jou spoel.” Dis makliker gesê as gedaan, Dokter.” (Proloog).
Meer oor die outeur: Johan Kruger was as regsgeleerde betrokke by die grondwetlike onderhandelinge wat in 1993 plaasgevind het in Kemptonpark. Hy is ook die skrywer van Die dag van die Lord en Die formidabele Ling Ho.
Vermoedelik dood beslaan 394 bladsye. Kry jou kopie hier.

Weerlose meganika (Anton Roodt) – Human en Rousseau
Hierdie heerlike verbeeldingryke en anderste debuutverhaal wat in die nabye toekoms afspeel, het al heelwat aandag getrek en word veral deur resensente geloof. Die hakkelende Rooipiet Moolman staan aan hoof van die jaarlikse Versoeningsfees-opvoering wat bo-op ’n mynhoop in Welkom gehou gaan word. ’n Opspraakwekkende ontdekking (’n koperplaatfoto wat tydens die geskiedkundige Slag van Bloedrivier geneem is en waarop drie engele verskyn) vorm die spil waarom alles draai, want engele moet nou terstond deel uitmaak van Moolman se opvoering – natuurlik tot katastrofiese gevolge. Sien, Moolman se hoofengel kom van Darwin Intelligence Systems (DIS) af en is ’n beeldskone slimbot oftewel sintetiese wese. ’n Super duper, spesiale engel uit die boks uit genaamd Lympi Lilia.
Uittreksel: Die situasie word ontlont toe Boytjie sy aandag vestig op die drie dartelende, giggelende figure in gepluimde wit gewade wat hand aan hand soos ’n eksotiese wit seilskip oor die golwe van teer aankom: Lympi, die skegbeeld; dan Vlindra in die middel as hoofmas; en Lizzy wat die agtermas vorm (51).
Meer oor die outeur: Anton Roodt het ’n MA in Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Hy beskik ook oor meestersgrade in argitektuur, stedelike beplanning en omgewingsbestuur. Nie net is hy ook ’n visuele kunstenaar nie, maar is hy ook lid van die Free State Art Collective. Hy praktiseer as argitek en beplanning.
Weerlose meganikabeslaan 320 bladsye. Kry jou kopie hier.




