Dokter geboei op pad na sterwende pasiënt

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA. – Kritiekesorgspesialis en narkotiseur dr. Johannes Smit, is Vrydagoggend voor Life Midmed-hospitaal aangerand, in ‘n gewelddadige arrestasie, nadat hy uit Pretoria gejaag het om ‘n sterwende Covid-19 pasiënt se lewe te red.

Daar word vermoed die Tshwane hoëspoed intervensie-eenheid was vir die aanranding verantwoordelik.

LEES OOK: Vuur brand buite beheer naby Christiana

Buite hospitaal vasgekeer

Die Covid-19-pasiënt is oorlede nadat dr. Smit deur die verkeerspolisiemanne buite die hospitaal aangerand en toe geboei is. Die aanvallers was ook in besit van wapens.

Volgens Middelburg Observer is hy aanvanklik net buite Bronkhorstspruit afgetrek, maar weens die noodgeval laat gaan. Dieselfde beamptes wat hom laat gaan het, het hom egter weer met ‘n ongemerkte voertuig agtervolg.

By Midmed-hospitaal is dr. Smit se voertuig reg voor die hospitaal vasparkeer, en hy is toegepak.

‘n Erg getraumatiseerde dr. Smit verwys alle navrae na sy prokureur, Danie Schutte. Dr. Smit is opgeneem vir skokbehandeling. Hierdie voorval het voor talle besoekers, hospitaalpersoneel en wagte plaas gevind. 

Moontlik gekraakte ribbes

Dr. Smit se prokureur het wel laat blyk dat dr. Smit in geweldige pyn verkeer en dat daar vermoed word dat sy ribbebene gekraak is tydens die “onregmatige arrestasie”.

Hy sê ook dat dr. Smit op ‘n klag van bestuur bo die toegelate spoedperk aangekla is in Bronkhorstspruit. Hy is wel positief dat die saak nie in enige hof sal staan nie en wat wel duidelik is, is dat die beamptes dr. Smit met bybedoelings agtervolg het.

LEES OOK: Kevin Federline ondersteun Britney Spears in voogdyskap-saak