Die heruitsending van Mike Bolhuis se werklikheidsprogram wat op KykNET uitgesaai word, is gekanselleer. Daar sal ook geen verdere heruitsendings uitgesaai word nie en geen nuwe reekse sal vervaardig word nie.
Tim du Plessis van KykNET het Vrydag die kansellasie aan FiND iT bevestig.
LEES OOK: Tydelike beskermingsbevel teen Mike Bolhuis steeds in plek
Kansellasie bevestig
“Ek kan jou met die gesag van KykNET se topbestuur meedeel die laaste episode van ’n heruitsending van Bolhuis sal op 29 Junie 2021 vertoon word. Daar sal geen verdere heruitsendings wees nie en geen nuwe reekse van Bolhuis sal vervaardig word nie.”
Mike Bolhuis se program is in Augustus 2019 deur KykNET gekanselleer nadat ’n stemboodskap waarin Bolhuis rassistiese aanmerkings maak, aan die lig gekom het. KykNET het egter weer die reeks uitgesaai nadat Bolhuis in ’n onderhoud om verskoning gevra het.
Antwoord nie op navraag nie
Bolhuis het nie Vrydag op FiND iT se navraag reageer nie, alhoewel hy vroeër in die week aan FiND iT gesê het al die bespiegelinge en anti-Mike Bolhuis Facebook-groepe wat teen hom gemaak word, nie ’n effek op sy reputasie of besigheid het nie.



