Tydelike beskermingsbevel teen Mike Bolhuis steeds in plek

Deel hierdie storie / Share this story

Die aansoek van Lizelle Taljaard om ‘n beskermingsbevel teen Mike Bolhuis te kry, is gister in die eMalahleni-landdroshof weens tegniese punte tot 13 Julie 2021 uitgestel.

Taljaard het in April ‘n tussentydse beskermingsbevel teen Bolhuis gekry omdat hy haar glo teister en weier om haar seun se besittings aan haar terug te gee.

Bolhuis het voorheen haar seun, Marcell van der Westhuizen, met ‘n dwelmprobleem gehelp.

Die beskermingsbevel wat Taljaard teen Bolhuis uitgeneem het, is steeds tydelik geldig.

LEES OOK: Anti-Mike Bolhuis groepe op Facebook gestig

Seun in hegtenis

Marcell van der Westhuizen en sy vrou, Leané van der Westhuizen, is op 2 Maart 2021 in hegtenis geneem nadat hulle glo ’n niksvermoedende man in Maart 2020 in ’n lokval gelei het, hom vir ongeveer 11 ure gemartel het en van R57 000 beroof het.

Leané het glo die man bevriend, vir hom vertel sy is besig om van Marcell te skei en saam met hom geslaap. Sy het ’n tyd later hom genooi vir koffie by haar huis waarna sy en haar man hom glo aangerand het.

Leané is sedert 1 Junie uit op borg terwyl Marcell in aanhouding gebly het. Die saak het weer 18 Junie 2021 in die eMalahleni-landdroshof voortgegaan.

Bolhuis het vroeër die maand aan Rapport gesê die bewerings is vals en die bevel in net tydelik. “Ons gaan dit beslis teenstaan.”

LEES OOK: Kaal paartjie in hegtenis wat glo seks voor kinders in parkie het