President Cyril Ramaphosa het Dinsdagmiddag op ‘n mediakonferensie gesê dit is veral in Gauteng nodig dat inperkingsmaatreëls verskerp moet word.
Die mediakonferensie het by die Kaapstad-hawe plaasgevind en Ramaphosa het verder gesê die nasionale koronavirusraad sal oor strenger inperkings vergader en aanbevelings daaroor maak.
“Ons is baie bekommerd en in Gauteng sien ons ‘n infeksiekoers wat baie hoër is as voorheen.”
David Makhura, Gautengse premier, het Maandag ook gesê: “Die huis is aan die brand,” toe hy verwys het na die stygende vlak van infeksies in die provinsie.
Gauteng se hospitale, hospitaalbeddens en mediese suurstof is tans onder baie druk te midde van die derde vlaag van infeksies.



