Moet my asseblief nie doodmaak nie

Deel hierdie storie / Share this story

Hierdie grillerige Argiope of tuinspinnekop soos ons hom ken, is nie vir mense gevaarlik nie. Hulle byt is nie giftig nie en hulle hou daarvan om groot, sigbare webbe te span, aangesien hulle primêr in die dag aktief is.

Hierdie besonderse spinnekop skud tot sy web om jou te waarsku wanneer jy te naby aan hulle beweeg. Hulle kos bestaan hoofsaaklik uit lastige insekte soos muskiete en vlieë.

LEES OOK: Die donker geskiedenis agter kleuterrympies

As die prooi in die web beland het, word dit met sy toegedraai, gebyt en uitgesuig. Die tuinspinnekoppe is dag-aktief. Hulle werk aan die web, ruil droë drade uit met kleweriges, herstel beskadigde plekke en wag vir prooi.

Gewoonlik sien ‘n mens hulle koponderstebo in die web hang. Die groot spinnekoppe is die wyfies. Die dwergmannetjies lyk heeltemal anders en beweeg eerder ongesiens aan die kante van die wyfie se web, versigtig om nie gevreet te word nie. Na paring word daar eiers in keteltromvormige eierkokonne verpak, wat dan ietwat weggesteek in die plant naby die web opgehang word.

Hierdie spinnekoppe kom wêreldwyd algemeen voor. Volgens die World Catalugue of Spiders is daar 87 verskillende Argiope-spesies bekend. In Suidelike Afrika kom sewe daarvan voor. In goeie reënjare sien ‘n mens hulle meer dikwels as in droë jare.

Dus: as jy een van die mense is wat doodbang is vir hierdie grillerige spesies, loop eerder ‘n wye draai as om hulle dood te maak.

LEES OOK: Só lyk die senuweestelsel na jou tande