Hoërskool DF Malan verander sy naam

Deel hierdie storie / Share this story

Die Hoërskool DF Malan in Belville sê hy gaan sy naam verander om “die skool se identiteit en geskiedenis beter te simboliseer”.

André Roux, beheerliggaamvoorsitter by die skool, sê in ‘n verklaring daar is nog nie op ‘n gepaste nuwe naam vir die skool besluit nie.

“Die beheerliggaam van die Hoërskool DF Malan het na ’n uitgebreide proses van oorlegpleging met lede van ons skoolgemeenskap – wat leerders, onderwysers, ouers en alumni insluit – besluit om ‘n proses te begin om sekere aspekte rakende die skool se simboliek te hersien,” sê hy in ‘n verklaring.

“Ons wil benadruk dat hierdie besluit deel was van ’n maandelange proses van konsultering waartydens alle aspekte van ons skool se identiteit- en toekomsvisie onder bespreking was. Ons is bly om te sê dat hierdie gesprekke in goeie gees gehou is op ’n wyse waarop deelnemers die vrymoedigheid gehad het om hul menings vrylik en sonder vooroordeel te lug.”

Lees ook: Gr. 6-meisie vas na sy drie by skool skiet

Verder sê Roux dat dit uit die proses duidelik geword het dat die skoolgemeenskap eens is dat dit ’n skool is wat Afrikaans en moedertaalonderrig hoog op prys stel op ’n manier wat alle Afrikaanssprekendes in die gemeenskap dien, terwyl dit ook die meertalige kapasiteit van sy leerders bevorder op ’n manier wat hulle in staat stel om in ’n multikulturele wêreld sukses te behaal.

“Ons wil deur die tradisionele grense van die Afrikaanse gemeenskap breek deur ’n insluitende skoolgemeenskap te wees waar alle Afrikaanssprekendes ewe welkom voel.”

“Ons is ’n skool wat die Christelike etos van die gemeenskap erken en ondersteun terwyl ons ook leerders en ouers met ander godsdienstige oortuigings respekteer en akkommodeer.”

“Ons is daarom nou gereed om die naam van die skool te verander op ’n manier wat die identiteit en geskiedenis van die skool beter simboliseer.”

Roux sê ‘n klein werksgroep sal getaak word om ondersoek in te stel na onder andere moontlike nuwe skoolname, die implikasies van so ’n naamsverandering, die kostes daaraan verbonde, die beste manier om op ’n geskikte nuwe naam te besluit en die besluit te implementeer, asook die uitbou van ander aspekte van die skool se identiteit.

Lees ook: Meisie (12) dagvaar skool oor sy masker moet dra