BOKSBURG. – Diereliefhebbers was geskok na ‘n hond, ‘n worshond-kruising, vol motorolie in ‘n emmer by die Dierebeskermingsverening (DBV) in Boksburg afgelaai is.
“‘n Man het vandag die DBV binnegekom en vir ons gesê dat hy nie meer sy hond wil hê nie. Hy het ‘n ou emmer neergesit en daarin opgekrul, was die hartseerste gesig wat ons in ‘n lang tyd gesien het,” skryf Boksburg-DBV op hulle Facebook-blad.
Hond in emmer was baie maer
Hulle verduidelik die klein hondjie was so maer, sy gebeente het uitgesteek. Hy was ook oortrek van die motorolie. “Toe ons hom uit die emmer haal en sien dat hy nog kan loop, het ons geweet dat daar hoop kan wees.”
Na die eerste plasing van Oliver, die worshond-kruising se nuwe naam, was almal dadelik geheg aan hom. Mense van oral het dadelik donasies vir die klein hondjie gestuur.
Goeie nuus vir Oliver-aanhangers
Aanvanklik was Oliver baie depressief en het nie baie aandag aan die dinge rondom hom gegee nie, maar vandag, twee dae later, het sy aanhangers goeie nuus ontvang.
“Klein Oliver is met wurms besmet en sy rooibloedtelling is baie laag. Dit kan van die wurmbesmetting wees, maar bloedmonsters word vanmiddag na ‘n laboratorium in Johannesburg gestuur vir toetsing. Oliver eet goed en is wakkerder as gister. Laat ons net hoop dat die bloedtoetse geen onderliggende probleme openbaar nie.”
LEES OOK: Verlowingsvideo – ‘Sy is net bly sy kan mense laat lag’
LEES OOK: Boer Niel en sy Cheréze – liefde blom omtrent tussen dié twee
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



