Verlowingsvideo – ‘Sy is net bly sy kan mense laat lag’

Deel hierdie storie / Share this story

Die verlowingsvideo waarin ‘n laggende vrou rondval terwyl ‘n man sy meisie vra om te trou, het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei en Suid-Afrikaners omtrent aan die lag gehad.

“Ons wou aanvanklik nie die video op sosiale media deel nie. Ons het dit eers tussen familie gehou, maar op ‘n manier het dit uitgelek,” sê Megan Edwards, die vrou wie se verlowingsvideo oral te sien is.

Verlowingsvideo het uitgelek

Megan lag steeds as sy moet vertel wat daardie dag op die strand gebeur het. So tussendeur die lag vertel sy aan FiNDiT die storie agter die video.

Megan vertel haar suster, Celine Edwards, is die een in die video wat skaterlag terwyl sy oor ‘n klip val. Volgens Megan het haar suster ook nie vooraf van die verlowing geweet nie.

“Daar is aan my gesê ons gaan net op die strand braai. Ons het afgestap en ek het ‘n hartjie op die strand gesien. Ek het dadelik iets vermoed. Ek wag immers al drie en ‘n halwe jaar vir die groot vraag.”

Hulle het aanvanklik niks gesien nie

Kyk die video hier.

Ian Share (nou Megan se verloofde) en Megan was so vasgevang in die groot oomblik dat hulle nie eers gesien het hoe Celine val nie. Hulle het eers nadat sy haar antwoord gegee het, die video gesien.

“Ian se neef, wat geweet het van die verlowing, het die hele gebeurtenis afgeneem. Hy kom toe na die tyd na ons toe en wys vir ons die video. Dit is toe dat ons uitbars van die lag!”

”Celine sê sy is nie gepla dat die video toe uitgelek het nie. Sy sê sy is net bly dat sy mense kan laat lag.”

LEES OOK: KYK: Man skree in restaurant: ‘Wie het hierdie kos gemaak?’ en toe…

LEES OOK: Boer Niel en sy Cheréze – liefde blom omtrent tussen dié twee

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.