KIMBERLEY. – “Sy het my vertel sy onthou dat hulle verby die vulstasie gery het. En toe sy weer wakker word, was sy in die hospitaal.”
Só vertel Ilsa van Wyk, Charné van Wyk se ma, oor wat haar dogter van die ongeluk wat Vrydagaand plaasgevind het, onthou.
Charné was Vrydagaand omstreeks 18:45 in ‘n ongeluk op die N12 net buite Kimberley betrokke. Haar boesemvriendin, Mariëtte Beeslaar, is in die ongeluk oorlede.
Charné en Mariëtte is beide onderwyseresse by Laerskool Eureka in Kimberley.
Mariëtte se gedenkdiens vind Woensdag 12:00 vanuit die Life Church in Kimberley plaas.
Charné is aanvanklik in die hospitaal in Kimberley opgeneem, maar is intussen na die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein se intensiewesorgeenheid geskuif.
“Sy het drie frakture aan haar heup opgedoen,” vertel Ilsa. “Hulle kon al een regmaak en die dokters beplan om môre die groor fraktuur te herstel. Sy het gelukkig geen brein- of nekbeserings opgedoen nie.”
Lees ook: Eureka-onderwyseres sterf in motorongeluk
Verder vertel Ilsa dat haar dogter traumabehandeling sal ontvang. “Toe ek Saterdagoggend by haar was, het sy vir my gesê sy kan niks onthou van wat gebeur het nie. Sy onthou net dat hulle verby die vulstasie gery het en toe sy weer wakker word, was sy in die hospitaal.”
“Sy het nog gevra oor Mariëtte, want sy het nie geweet wat het gebeur nie.”
Hou FiND iT dop vir enige nuwe verwikkelinge.



