Twee vas ná Smithfield-moord

Deel hierdie storie / Share this story

SMITHFIELD. – Twee verdagtes van onderskeidelik 22 en 28 jaar oud is in hegtenis geneem in verband met die moord op Greg May, gastehuis- en kunsgalerybestuurder van Smithfield in die Vrystaat.

May se bene is geamputeer en hy was in ‘n rolstoel.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê die polisie het om 22:00 ‘n oproep van ‘n huiswerker gekry wat ‘n geluid by die hoofhuis van die Lazy Likkewaan-gastehuis gehoor het. Lees die vorige berig hier.

Verdagtes nog op die perseel

“Toe die polisie op die toneel aankom, was een van die verdagtes nog op die perseel. Nog ‘n verdagte is gevind wat by ‘n sportstadion oorkant die gastehuis probeer wegkruip het.”

Lees ook: Polisie sê Simoné se dood wás selfdood

Mbambo sê toe die polisie die huis deursoek, het hulle op May se liggaam afgekom. “Die man, ongeveer 65 jaar oud, se liggaam is op sy rug in ‘n plas bloed in die huis gevind. Hy het ‘n wond aan sy nek gehad.”

Die twee verdagtes is in hegtenis geneem.

Die polisie kon tot dusver net vasstel dat ‘n selfoon vermis is.

Die ondersoek duur voort.