KIMBERLEY. – Elke keer wanneer die Sol Plaatje-munisipaliteit die watervoorsiening van Kimberley onderbreek, neem die lyding van pasiënte in die Noord-Kaap se enigste tersiêre instelling, die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, toe, volgens dr. Isak Fritz, die DA se Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder van gesondheid.
Hy sê verder dit is omdat die toenemende gereeldheid, tydsduur en wisselvallige aard van waterbesnoeiings hospitaaldienste heeltemal tot stilstand bring.
Loop vinnig leeg
Terwyl die hospitaal wel sy eie opgaardam en JoJo-tenks het, loop dit ná ongeveer ‘n halwe dag sonder verdere watertoevoer vanaf Sol Plaatje leeg.
“Met die langdurige en wisselvallige watervoorsiening kan die opgaartenks ook nie altyd behoorlik gevul word nie. Dit lei tot nog minder ure van operasionele hospitaaldienste,” sê Fritz.
Lees ook: Kby-inwoners se waterregte moet beskerm word, sê DA
Impak strek verder
“Die impak van die watertekorte strek veel verder as die reeds ernstige gebrek aan water om hande te was, toilette te spoel en skoon linne te verseker.”
“Waterbesnoeiings beïnvloed dinge soos nierversorging. Dit veroorsaak vertragings in lewensreddende kankerbehandeling. Watertekorte is ook direk daarvoor verantwoordelik dat die agterstand in elektiewe chirurgie nou glo amper ‘n duisend bereik het.”
‘Pasiënte word in die steek gelaat’
Volgen Fritz word pasiënte, wat honderde kilometer na Kimberley vervoer word om gespesialiseerde behandeling of operasies te ondergaan, in werklikheid in die steek gelaat. Hulle word óf weer huis toe gestuur, óf gedwing om meer tyd weg van hul gesinne in die hospitaal deur te bring. Van hulle wag al letterlik jare om behandeling of chirurgie te ontvang.
“Iets wat begin as ‘n roetine loop dus die gevaar om tot iets ernstiger en selfs lewensgevaarlik te ontwikkel. Waar is die sorg en menslikheid daarin?”
Lees ook: Ma, pa en gestremde dogter in plaasaanval aangerand
DA sal vrae indien
Fritz sê die DA sal parlementêre vrae indien om die volle impak van die waterafsluitings op die RMS-hospitaal vas te stel, insluitend die toenemende aantal mediese agterstande.
Die party het reeds ‘n saak by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ten opsigte van die skending van Kimberley-inwoners se reg tot toegang tot water deur die Sol Plaatje-munisipaliteit ingedien. “Ons sal verder die kommissie vra om ook die skending van die reg op gesondheid gedurende hul ondersoek teen Sol Plaatje te oorweeg.”



