KIMBERLEY. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap is bemoedig dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) hulle pleidooi om hulp met die voortslepende skending van Kimberley-inwoners se reg op water deur ‘n onverskillige en swygende Sol Plaatje-munisipaliteit aangehoor het, sê Christopher Phiri, DA-koukusleier.
Volgens Phiri het Ockie Fourie aanvanklik in Februarie ‘n klag by die SAMRK ingedien en was van toe af met die kommissie in verbinding. Phiri sê gister het die DA nog ‘n oproep van die saakondersoeker ontvang wat daarop dui dat verdere ondersoek binnekort sal plaasvind.
Lees ook: Hartseer verhaal van 16-jarige Simoné se selfdood
‘Selfs Sol-raadslede word in die duister gelaat’
Die Kimberley-waterkrisis, wat telkens vererger, duur al jare lank, en raak al hoe meer mense. “Terselfdertyd is daar minder en minder eerlike kommunikasie met inwoners van die munisipaliteit af,” sê Phiri. “Selfs die Sol Plaatje-raadslede word in die duister gelaat.”
Phiri sê hy het die Riverton-watersuiweringsaanleg en die Newton-reservoir gister saam met DA-raadslede Fourie en Norman Maditse besoek. “Alhoewel ons ‘n aantal kommerwekkende kwessies waargeneem het, moet ons verdere tegniese leiding by onafhanklike kundiges soek. Dit is onregverdig, nie net vir ons nie, maar ook vir al die inwoners van Kimberley, wat dringend na ons kyk vir antwoorde omdat hulle krane droog bly.”
“Burgemeester Patrick Mabilo en die hele span van die burgemeesterskomitee het ál die inwoners van Kimberley in die steek gelaat.”
Lees ook: Kby: Jy sal op hiérdie tye water kry
‘Hoop dat SAMRK ondersoek versnel’
“Ons hoop dat die SAMRK sy ondersoek sal versnel, Sol Plaatje aanspreeklik sal hou vir hul mislukkings en vinnig met bindende aanbevelings sal kom wat ons kan gebruik om hulle verantwoordelik te hou.”
Volgens Phiri het die munisipaliteit al voorheen goeie advies geïgnoreer en selfs hulle eie pogings om probleme in verband met die rioolstelsel op te los, van die hand gewys. “Hierdie keer moet hulle nie toegelaat word om instruksies, wat sal help om die stad se waterstelsel reg te stel, te ignoreer nie. Menseregte hang daarvan af.”



