April 18, 2021

Hartseer verhaal van 16-jarige Simoné se selfdood

“Toe ek my kop so oplig, het ek hier uit die hoek van my oog gesien; hier hang Simoné.”

Foto: Louise Nienaber sê haar kleindogter was 'n "baie mooi kind met mooi maniere".

Foto: Louise Nienaber sê haar kleindogter was 'n "baie mooi kind met mooi maniere".

KIMBERLEY. – Die atmosfeer in die huis in Beaconsfield is droef. Jaun van Eeden sit met sy hand op die knie van Louise Nienaber, oorlede Simoné le Roux se ouma. Trane lê vlak in sy oë.

“Ek was so lief vir haar. Sy was soos my eie kind. Ek was so lief vir haar. Sy was my blue eyed girl.”

FiND iT gesels met Louise (59) en met Jaun (54) oor die dag, presies ‘n week gelede, wat die 16-jarige Simoné vermis geraak het, haar laaste boodskap aan haar niggie, hoe hulle na haar gesoek het en die verskriklike dag waarop hulle op haar lyk in die buitekamer afgekom het.

Foto: Die 16-jarige Simoné le Roux is Dinsdag as vermis aangemeld.

Drie jaar in haar sorg

Louise huur by Jaun en Simoné en haar niggie, Jackie Coetzee (17), is drie jaar gelede in haar sorg geplaas.

Jaun vertel van die laaste Maandagoggend dat hy vir Simoné gesien het. “Dit was so 06:00 die oggend. Ek het nog vir haar ‘n drukkie gegee en gesê: “Môre, my kind.’ Ek was op pad werk toe en sy het gesê sy gaan eers nog ‘n bietjie slaap.”

Juan werk as loodgieter by Cooling Solutions in Kimberley. Louise, wat weens drie hartomleidings nie kan werk nie, was dié tyd by die huis.

Begin bekommerd raak

“Ek het hier teen halftien begin bekommerd raak oor waar sy kan wees,” vertel Louise. Sy sê die ander vrou wat ook op die perseel huur, het gesê sy het Simoné omstreeks 08:00 nog gesien. “Sy het nooit regtig uitgegaan of rondgeloop nie. Sy het soms vir haar ‘n energiedrankie hier onder by die kafee gaan koop, maar sy sou in dié geval mos teen halftien weer by die huis wees.”

Foto: Louise Nienaber sê haar kleindogter was “die mooiste kind met die mooiste maniere”.

Simoné se laaste boodskap

‘n Hartseer Jaun wys die boodskap op sy selfoon wat hy ongeveer dié tyd van Jackie af gekry het.

“Jammer vir wat ek aan jou doen, nig, vergewe my.” Simoné het dié boodskap kort voor haar dood aan Jackie gestuur.

Jaun is toe by die werk weg om te gaan kyk of alles pluis is tuis. “Ek het oral rondgekyk, maar kon niks fout sien nie. Ek is weer terug werk toe.”

Begin onraad vermoed

Toe Simoné later steeds nie na die huis teruggekeer het nie, het Louise en Jaun begin onraad vermoed. “Ons het gedink sy het dalk weggeloop. Ons het van die begin af geweet sy het die agterhek se sleutels by haar gehad. Ons het nooit besef sy het die pakkamer se sleutel uit my bedkassie se laaitjie gevat nie.”

Simoné het volgens Louise vantevore al weggeloop, daarom het hulle gedink dis dié keer weer die geval.

Louise het Simoné Dinsdag as vermis gaan aanmeld.

“As jy maar net ‘n idee gehad het van hoeveel kilometers oom Jaun agter haar aangery het,” sê Louise. “Elke keer as iemand gesê het hulle dink hulle het haar iewers gesien, het hy dadelik in sy kar geklim en gery. Ons het nooit gedink om in die buitekamer te kyk nie.”

Simoné was ‘n graad 10-leerling aan Hoërskool Adamantia in Kimberley.

Die niggies was soos sussies

Louise vertel Jackie en Simoné was soos sussies. “Hulle het alles saam gedoen. Hulle was altwee sulke mooi kinders met mooi maniere.”

Simoné is drie jaar gelede in haar ouma se sorg geplaas toe daar probleme tussen haar ma, wat in Pretoria bly, en haar stiefpa ontwikkel het. Jackie en Simoné het ‘n kamer gedeel.

‘Sy was die rede dat ek ophou drink het’

“Sy was so ‘n slim kind,” vertel Jaun hartseer. “Sy het so goed op skool presteer. Sy wou eendag in die toerismebedryf of oorsee as lyfwag gaan werk. Maar wat my altyd sal bybly, is dat sy die rede is dat ek opgehou drink het.”

Jaun vertel hoe hy vóór Louise by hom begin huur het, vreeslik baie gedrink het. “Ek moes altyd so by almal hoor dat dié kind glad nie daarvan hou nie. So stadigaan het ek al minder begin drink, ek het heeltyd vir myself gesê ek moet ophou vir die kind. Tot ek die een dag vir my ‘n glas uitgehaal het, dit vol ys gegooi het en toe net Coke ingegooi het. Toe is ek klaar.”

Foto: Jaun van Eeden, in sy huis in Beaconsfield, sê hy sal die goeie herinneringe saam met Simoné le Roux altyd koester.

Gerugte dat sy swanger was

Oor gerugte dat Simoné dalk swanger was en dít die rede was vir haar selfdood, sê Jaun: “Ek twyfel sterk. Sy het niks vir my weggesteek nie. Sy sou met my daaroor kom praat.”

“Dis dalk moontlik dat sy aan depressie kon ly. Ons het die een dag so iewers heen gery, toe sê sy vir my: ‘Oom, ek moes nie gebore gewees het nie.’ Ek het vir haar gesê ek is in dieselfde bootjie, maar dat ek vir haar lief is en dat ons net moet aangaan. Ons het baie na aan mekaar geraak.” Jaun staan op, haal die sakdoek uit sy broeksak uit en stap by die deur uit.

Toe Jaun op haar afgekom het

Hy lyk moeg toe hy weer in die stoel neersak. “Ek was gister besig met ‘n paar goed buite toe ek die vlieë buite die pakkamer opgelet het. Ek het gedink die vreemde reuk kom van die drein af.” Hy haal diep asem en sluk sy trane weg. “My selfoon se liggie is maar flouerig, so ek het Jackie gevra of ek hare kan leen. Daar is nie ‘n lig in die pakkamer nie. Ek kon niks by die drein fout sien nie en toe ek my kop so oplig, het ek hier uit die hoek van my oog gesien hier hang Simoné.”

Simoné het haarself met blou tou opgehang.

Hy laat sak sy kop en bly vir ‘n oomblik stil. “Dis toe dat ek so geskree het. Ek het uitgeloop en alles gesluit en vir Louise-hulle gesê hulle moenie daar ingaan nie. Louise se kleinseun moes die polisie bel, ek kon nie praat nie.”

Louise sê die agterhek se sleutel, die pakkamer se sleutel en Simoné se selfoon is by haar liggaam gevind. Haar liggaam is tans by die polisiestasie se lykshuis.

Simoné se verassing vind Woensdag plaas.

“Ek weet nog nie hoe ons ‘n begrafnis van R10 000 gaan bekostig nie. Ons is maar ‘n klein familie.”

‘Sal haar onthou soos wat sy was’

“Ek wou nie na haar lyk gaan kyk nie. Ek sal haar onthou soos wat sy was.”

Jaun sê hy sal sy herinneringe saam met Simoné vir altyd koester. “Simoné en haar niggie het altyd modeparades gehou en so gelag en so foto’s geneem. Dis ‘n mooi ding om te onthou.”

FiND iT sal later meer inligting oor Simoné se begrafnis gee.

As jy met depressie sukkel of selfdoodgedagtes het, moenie bang wees om vir hulp te vra nie. Skakel 0800 567 567 indien jy hulp nodig het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: