WARRENVALE. – Charl Anthon Josephs het Dinsdag 13 April 2021 op aanklag van moord in die landdroshof op Warrenton verskyn. Hy is op R500 borgtog vrygelaat.
Kol. Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê daar word beweer dat Josephs op 10 April 2021 die oorledene, Spurgeon Hendrik Morake (37), menige male met ’n mes gesteek het. “Sy liggaam is op straat gevind.”
LEES OOK: Polisie soek vrou wat kan help met Piet Els-moordsaak
Driejarige sien wat gebeur
Philip Morake, die oorledene se broer, het aan FiND iT gesê Morake het met sy meisie in die pad gestaan en stry terwyl hy sy seun (3) op sy skouers gehad het. “Die buurman het uitgekom en die twee het woorde gehad waarna die buurman gesê het hy gaan sy oom roep. Die man het daar opgedaag en my broer sewe keer met ’n mes gesteek.”
Die voorval het glo ten aanskoue van die oorledene se driejarige seun en lede van die gemeenskap gebeur. Die polisie en die ambulans is omstreeks 14:00 ontbied, maar het eers eers omstreeks 16:20 opgedaag. Morake het op die toneel gesterf.
Soek geregtigheid
Na bewering het Josephs homself later aan die polisie oorhandig.
“Ons wil net geregtigheid in my broer se dood sien geskied.”
Die saak is tot 8 Junie 2021 uitgestel. Die polisieondersoek duur voort.
LEES OOK: Polisie soek seun se ouers



