‘Ons het uit tyd uit gehardloop’

Deel hierdie storie / Share this story

MOKOPANE. – AJ Nieman (15) is die gesig van wat met Suid-Afrika se geestesgesondheidstelsel fout is. Hier vertel sy ma hartverskeurend oor AJ se lewe en wat gelei het na die oomblik toe hy homself aan die brand gesteek het.

AJ sou op 1 Mei 2021 16 jaar oud geword het. Sy ma, Hester Niemand, sê sy psigiatriese probleme het al begin toe hy vyf jaar oud was.

“Hy het by sy dagsorg begin om ander kinders en personeel met skerp voorwerpe, soos ’n skêr, rond te jaag. Hy het gesukkel om enige gesag te aanvaar en kon baie aggressief raak. Ons het uit desperaatheid al op ’n keer vir hom gesê ons gaan die polisie bel.”

Lees die vorige artikel hier.

Hulp begin soek

AJ is die jongste van drie kinders. Hy het ’n sussie van 17 en ’n broer wat 19 word. Hester vertel hulle het vroeg vir hom hulp begin soek.

“Hy is met bipolar en obsessive compulsive disorder gediagnoseer. Daar was ook ander goed, soos ADHD op sy lêer geskryf, maar dit is nooit met ons bespreek nie. Hy is ook met PTSD gediagnoseer nadat sy pa twee jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede is.”

So het die soeke na hulp begin en AJ het saam met die eerste welsynwerker begin werk op vyf jaar oud.

Hester sê hy is menigmale opgeneem vir behandeling, maar daar was wel kere wat daar nie vordering in sy psigiese gesondheid was nie.

“Hy was eers in die Voortrekker-hospitaal opgeneem en daarna was hy vir drie weke in die Mokopane-hospitaal. Dit is in hierdie tyd wat ’n nuwe welsynwerker sy saak oorgeneem het. Hy is ontslaan en daarna het daar net weer niks (hulp) gebeur nie.”

Aggressie gee hom krag

“Ons het al so baie insidente gehad. Toe hy begin ouer raak, kon ons hom nie meer keer of beheer nie. Hy het soveel krag gehad soos wat ek nog nooit in ’n kind gesien het nie.”

“Hy het soveel krag soos ’n man van drie keer sy grootte, ons kon hom eenvoudig nie keer nie. Selfs my man, sy stiefpa, wat groot gebou is, kan hom nie keer nie.”

Hester sê sy was gereeld bevrees dat hy homself of ander mense sou seermaak.

“Ons het insidente gehad waar hy weggeloop het en dan weer teruggekom het. Hy het een keer teruggekom en na alkohol geruik. Ons het hom gekonfronteer, want ’n kind van 15 kan nie alkohol drink nie.”

Hester vertel van ’n onlangse insident waar hy by die Nyl, onder die brug, saam met vriende wou gaan slaap. “Dit is bitter gevaarlik daar. Mense word gereeld daar aangeval. Ek het geweier dat hy gaan. Dit is my verantwoordelikheid om seker te maak hy stel homself nie in gevaar nie.”

“Hy het net eenvoudig gesê hy gaan en het begin om sy fiets se pap wiel reg te maak sodat hy kan gaan. Ek het die veiligheidsdeur gesluit sodat hy nie kon uitgaan nie. Hy het net daar opgevlieg, ’n kas se deur afgeskeur asof dit van papier gemaak is en my daarmee gegooi. Gelukkig het hy my gemis, maar hy het ons hond raakgegooi. Die hond se getjank het my man, wat geslaap het, wakker gemaak. Hy het kom kyk wat gaan aan en AJ het hom met die fiets se wiel in sy gesig gegooi.”

Hulle het die welsynwerker gebel, maar geen antwoord gekry nie.

LEES OOK: Pastoor sê vroue moet maer en mooi bly sodat mans nie moet rondloop nie

Vir vier maande opgeneem

AJ is na dié insident vir vier maande in Bossa opgeneem. Die welsynwerker het net eendag vir sy ma laat weet hy is ontslaan en hy word terug huis toe gestuur.

“Dit was vir my baie vreemd, want die hof moes hierdie besluit geneem het en my in kennis gestel het. Die welsynwerker het belowe om die dokumente te bring, maar tot vandag toe het ek nog nooit daardie dokumente ontvang nie. Ons sou ook ’n vergadering hê om sy verdere sorg en haar besoek te bespreek, maar sy het nooit opgedaag nie. Menige afsprake is met haar gemaak waarvoor sy net nooit opgedaag het nie.”

“Ek het hoeveel kere gebel, gesmeek en gevra. Ek het sy vorige welsynwerker ook gekontak om hulp te vra.”

Gewag vir opname

Hester vertel hulle het ‘n paar maande gelede aansoek gedoen vir ’n plasing by Weskoppies, maar tot en met AJ se dood geen plasing ontvang nie.

“Die welsynwerker moes die aansoek indien, maar elke week wanneer ek haar bel om te hoor hoe ver die plasing is, het sy verskonings gehad of eenvoudig net nie geantwoord nie. Ek het elke week navraag gedoen, soms twee of drie keer per week.”

“Ek het tot nou toe nog steeds geen antwoord oor die plasing gekry nie.”

AJ gooi brandstof oor hom uit

Hester vertel harsteer en emosioneel wat Sondag gebeur het voordat AJ homself aan die brand gesteek het.

“Ek het laat iemand sy motorfiets kom haal, een wat hy nie op ’n eerlike en eerbare manier gekry het nie. Ek het net eenvoudig gesê ek soek nie die ding in my erf nie, want dan beteken dit ek stem saam met die manier hoe dit bekom is. Ek voel mens doen dinge op die eerlike manier.“

“Toe die man die motorfiets kom haal, was AJ rustig en hy het met die man gestaan en gesels. Ek kon sien hy was bietjie suur, maar hy was rustig.”

“Toe hy terugkom, het hy goed in sy kamer begin rondgooi. Ek het besluit om hom nie te konfronteer daaroor nie.”

“Hy het uitgekom en vir my gesê hy gaan homself nou aan die brand steek. Ek het met hom probeer praat en die brandstof by hom probeer wegvat, maar ek kon dit nie regkry nie. Ek het my ma gebel en vir hulp gevra. Dalk kon sy met hom praat.”

“Sy boer en suster het in daardie stadium net van die kafee af gekom en het hom vir my deur die venster dopgehou terwyl ek hulp probeer kry het.”

“Die volgende oomblik het my oudste seun begin skree en ek het aangehardloop gekom. My seun was toe alreeds aan die brand. Hy het nie geskree of rondgehardloop nie. Hy het net so in die vlamme gestaan.”

My man het uitgehardloop gekom en hom gegryp, hom teen sy bors vasgedruk en hom grond toe gevat waar ons hom almal met water gegooi het. Daarna het ons hom met nat handdoeke en komberse koel gehou tot die ambulans opgedaag het.”

“Die was die verskriklikste ding om ooit te aanskou. Om jou kind so in vlamme te sien. My ander kinders is getraumatiseer en niemand slaap in die nag nie. Ons het uit tyd uit gehardloop. Dit was so onnodig. As ons net vroeër hulp gekry het, was my seun dalk nog vandag hier.”