Seun steek homself voor ma aan brand

Roudiens vir AJ Nieman

Roudiens vir AJ Nieman Foto: Verskaf

WAARSKUWING: Foto in berig kan sensitiewe lesers ontstel.

MOKOPANE. – AJ Nieman (15), wat nêrens hulp vir sy verskeie psigiatriese probleme kon kry nie, het homself gistermiddag in brandstof gedompel en hom voor sy ma aan die brand gesteek.

AJ was in ’n koma en sy longe het platgeval. Hy is vanoggend in die MOKOPANE-hospitaal oorlede.

LEES OOK: Pastoor sê vroue moet maer en mooi bly sodat mans nie moet rondloop nie

Welsynwerker glo met kraamverlof

AJ is met menige psigiese versteurnisse gediagnoseer. Sy ma, Hester Nieman, probeer al vir meer as ’n jaar lank vir hom hulp kry.

Sy ma het by Polokwane- psigiatriese hospitaal, sowel as die welsyn om hulp gevra, maar is as gevolg van die inperking weggewys. Die welsynwerker wat met sy saak gewerk het, het glo op kraamverlof gegaan en gesê sy wil nie gepla word nie.

Menigmaal hulp gevra

“Ons het verskeie kere teruggegaan welsyn toe en vir ’n Vorm 4-aansoek gevra, wat doodeenvoudig nie gedoen is nie. Die psigiatriese hospitaal het geweier om AJ op te neem, want dit was Covid en hulle kon nie die welsyn in die hande kry nie. Hulle het ook geweier om vir hom verdere medikasie vir sy toestand te gee, want hulle was van mening dat hy dit in elk geval nie drink nie.”

Hester se laaste probeerslag om hulp te kry, was ’n week voor AJ homself aan die brand gesteek het, maar sy is weereens weggewys.

LEES OOK: Veilige plek vir ongewenste babas

Sisteem het hom gefaal

Tess Riekert van Back on Your Feet sê die sisteem het hierdie seun en sy familie gefaal. “Ons vra almal wat hier lees, om op te staan vir kinders met sielkundige probleme en dit hang van ons af om te verseker dat die sisteem ’n manier sal vind om saam met gesinne in ’n krisis te werk en nie net salarisse in te vorder wat hulle nie verdien het nie, terwyl hulle in lockdown of met kraamverlof is nie.”

Hester sê sy is bitter dankbaar vir die dokters en die personeel wat hulle bes gedoen het om haar seun se lewe te red. “Hulle was baie behulpsaam, vriendelik en het my heeltyd op hoogte gehou. Ek wil ook net baie dankie sê vir elke gebed wat vir ons opgestuur is.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *