MINNEAPOLIS. – Daunte Wright (20) is “per ongeluk” deur die polisie doodgeskiet toe ‘n beampte van plan was om haar skokstok (taser) te ontplooi, maar toe in plaas daarvan ‘n skoot afgevuur het.
Daar word berig die polisie wou Wright in hegtenis neem omdat hy glo uitstaande lasbriewe teen hom gehad het. Oorsese media berig Wright is deur die polisie afgetrek waarna hy uit die motor moes klim. Daar het glo ‘n struweling ontstaan toe Wright wou terugklim in sy motor terwyl polisiebeamptes probeer het om hom te boei. Dit is toe dat die beampte glo “per ongeluk” ‘n skoot afvuur in plaas van die skokstok gebruik.
Wright kon wel nog na die skietongeluk in sy motor klim en ry, maar het, swaar gewond, ‘n blok verder ‘n ongeluk met sy motor gemaak en is op die toneel dood.
Daunte Wright (20) bel sy ma tydens voorval
In ‘n video vertel Wright se ma van haar laaste gesprek met haar seun. Wright het sy ma gebel toe die polisie hom wou aftrek.
Video’s van die voorval word intussen deur die polisie ondersoek om vas te stel wat presies gebeur het.
Die beampte wat Wright na bewering dodelik verwond het, is Maandagaand as offisier Kim Potter geïdentifiseer. Potter werk al 26 jaar vir die Brooklyn Center-polisie.
Die spanning loop reeds hoog in Minneapolis waar die hofsaak teen Derek Chauvin, wat van moord op George Floyd aangekla word, weer hervat het. Dis nog nie eers ‘n jaar later nie en ‘n soortgelyke voorval vind plaas. Wright se skietongeluk het presies 16 km van waar Floyd dood is, gebeur.
LEES OOK: Liggaam met steekwonde oral oor lyf gevind, polisie op soek na familie
LEES OOK: Verpleegster troos Covid-pasiënte met ‘the hand of God’
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



