Baba se handjie geamputeer ná probleme by staatshospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA. – ‘n Drie weke oue babatjie se hand is geamputeer ná komplikasies by ‘n staatshospitaal. Die baba is aanvanklik vir diarree in die hospitaal opgeneem.

Sibongile Mkani-Mpolweni, woordvoerder van die premier in Mpumalanga, sê die voorval het by die Bernice Samuel-hospitaal op Delmas, Mpumalanga, plaasgevind. Presies watter komplikasies ontstaan het, is nog onduidelik.

Lees ook: Bekende kletsrymer se verloofde val na haar dood

“Die premier verneem met skok en teleurstelling van die voorval wat daartoe gelei het dat ‘n drie week oue babatjie se hand geamputeer moes word,” lui ‘n verklaring.

Nadat die baba aanvanklik vir diarree by die Bernice Samuel-hospitaal opgeneem is, is sy ná die komplikasies na Witbank-hospitaal oorgeplaas.

Die premier en Sasekani Manzini, die LUR vir gesondheid, het gister die baba en haar gesin by die Witbank-hospitaal gaan besoek.

Omstandighede rondom die komplikasies word nou ondersoek en die departement is volgens Mkani-Mpolweni vasbeslote om die gesondheidsfasiliteite by sy hospitale te verbeter.

Lees ook: Man deel sy geboortefoto’s om trans-geboortes te normaliseer

Die baba herstel tans in die Witbank-hospitaal.