KYK: Video waarin ‘honde-oppassers’ hond glo mishandel veroorsaak oproer

Deel hierdie storie / Share this story

HERMANUS. – ‘n Video waarin ‘n man en ‘n vrou, beweerde honde-oppassers, ‘n hond wat op sy bed lê, begin slaan en daarna optel en by die deur uitgooi, het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.

WAARSKUWING: Video mag dalk sensiteiwe kykers ontstel.

https://vimeo.com/528235412

Sosialemediagebruikers en veral diereliefhebbers is woedend oor die video. Die video is talle kere gedeel en mense het hulle ontevredenheid oor die voorval uitgespreek. Die eienaar van die hond beweer in ‘n plasing op Facebook die man en vrou van ‘n bekende huis- en troeteldieroppasdiens op Hermanus het haar sewe maande oue hond mishandel. Sy sê verder in die plasing die video wat tans versprei, is net ‘n gedeelte van die video’s wat sy in haar besit het.

NSPCA bewus van video waarin beweerde honde-oppassers hond mishandel

Die Nasionale Raad van Verenigings ter voorkoming van wreedheid teenoor diere (NSPCA) het aan FiNDiT bevestig die saak is na hulle verwys.

“Ons is bewus van die video wat op sosiale media versprei word. Ons sal binnekort in verbinding met die eienaar van die hond tree,” sê Keshvi Nair, die woordvoerder vir die NSPCA. Oor die identiteit van die man en die vrou wat in die video gesien word, sê Nair hulle weet nog net dit wat op sosiale media beweer word.

FiNDiT het navraag by die eienaar van die hond gedoen en wag op terugvoer.

LEES OOK: Video op sosiale media wys hoe onderwyseres na bewering rondgeruk word

LEES OOK: TikTok-neiging: ‘Dit kan ernstige pyn en ongemak veroorsaak’ sê veearts

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.