Die Here dra my deur – deel 2

“Drie weke nadat ons uitgevind het ons jongste dogtertjie is blind, het ons uitgevind my man het fase vier Melanoom-kanker.”

Die Here dra my deur – deel 2

Die Here dra my deur – deel 2 Foto: Verskaf

Hierdie storie is ’n opvolg van die eerste een wat gister geplaas is. Lees die eerste storie hier.

Elouise Scheepers (42) van Hopetown, se man, Kobus Scheepers, is vier keer in vier jaar met kanker gediagnoseer voordat hy in 2018 aan kanker oorlede is.

Hier vertel sy aan FiND iT haar ongelooflike storie van hoe die Here haar man drie keer van melanoomkanker genees het.

Vind uit jongste dogtertjie is blind

Elouise vertel hulle het op sewe weke oud uitgevind haar jongste dogtertjie is ook blind en sy het daarna haar werk as onderwyseres bedank.

Man gediagnoseer met kanker

“My man het in 2014 ’n moesie in sy nek gehad en dit het bly jeuk en bly groei. Hy het toe dokter toe gegaan vir iets anders, maar het die dokter sommer gevra om die moesie uit te sny.”

“Drie weke nadat ons uitgevind het ons jongste dogtertjie is blind, het ons uitgevind my man het fase vier melanoomkanker.”

“Daai tyd was daar geen medikasie wat daarvoor gewerk het nie. Dit was baie aggressief en bestraling en chemo het dit nie genees nie. Dit was daai tyd ’n doodvonnis.”

Die Here gryp in

“Ek het gebid en vir die Here gevra om in te gryp. Hy het vir my die vers in 2 Konings 20 gegee wat lees: ‘Ek, die God van jou voorvader David, het jou gebede verhoor en jou trane gesien en ek gaan jou gesond maak.’”

“Wanneer jy deur die diepste swaarkry in jou lewe gaan, is wanneer God jou die hoogste dra. Ons het geen familie naby gehad nie, maar ons het so baie liefde en ondersteuning van mense in die omgewing ontvang.”

“Ek het persoonlik ervaar hoe die Here se genade vir mens genoeg is.”

“My man het toe gegaan vir ’n operasie en ’n groot stuk is uit sy nek uitgesny. Daarna het ons gehoor hy is skoon van melanoom en dat niks van die kanker na enige van sy kliere toe versprei het nie. Hy was skoon en gesond.”

LEES OOK: Veiligheidswag gebrand, dood by busstasie gevind

Jaar later weer met kanker gediagnoseer

Die volgende jaar Augustus/September moes Kobus weer vir ’n ondersoek gaan. Elouise sê hy het in daardie stadium vreeslik gehoes en soms gesukkel om asem te kry.

“Ons het toe die nuus gekry dat die melanoom na sy longe toe versprei het. Die dokter het ’n long-biopsie gedoen en dit het gewys sy longe was vrot van die kanker. Hy het vyf groot gewasse, waarvan een 10 cm groot was, op sy longe gehad. Hulle kon niks vir hom doen nie en hulle het hom drie maande gegee om te leef.”

“Ek het weer begin bid en ek het die gemeenskap ook gevra om vir my man te bid. Die Here het weer vir my dieselfde vers bly gee.”

“Ons dokter het ons toe vertel van ’n nuwe medikasie wat nog nie in Suid-Afrika geregistreer was nie, omdat dit nog in die toetsstadium was. Die medikasie se kostes het R250 000 vir een maand se voorraad beloop. Ons dokter het vir ons aansoek gedoen en ons het die medikasie verniet gekry.”

“My man het die medikasie vir twee maande gedrink, maar dit het bitter sleg gegaan. Hy was in die hospitaal opgeneem en ek het gedink hy was op sy laaste, maar ek het aanhou bid.”

“Hy moes elke maand gaan vir sonars en om bloed te trek sodat dit weggestuur kon word as deel van die navorsing vir die pille. Ons was in April vir ’n sonar en die radioloog het ontsettend lank weggebly met die uitslae. Ons het later bekommerd begin raak.”

“Die radioloog het my man geroep en vir ons gesê hy sien geen kanker op sy longe nie. Al sy skanderings was skoon. Hy het gesê dit is die tweede keer in sy 30 jaar as radioloog wat hy so ’n wonderwerk sien.”

“My man het wel die pille gedrink, maar dit was nie die pille wat hom genees het nie, dit was net die Here se genade. Ek het gebid en die Here gevra of dit regtig kan waar wees. In die wagkamer het daar ’n klein Bybeltjie op die tafel gelê en ek het hom oopgemaak. Die here het my na die Skrif in Johannes 11 gelei wat lees: ‘Die siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die mag van God sodat die seun van God verheerlik kan word.’”

LEES OOK: Pasgebore baba met naelstring nog aan, langs pad gevind

Epileptiese aanvalle

Die volgende jaar in Maart het Elouise se man epileptiese aanvalle begin kry en hy is met breinkanker gediagnoseer.

“Daar was tye wat my man nie kon praat nie. Die dokter het besluit om ’n heelbrein bestraling te doen en my man het vir 10 dae bestraling ontvang.”

“Ons moes ses maande wag om uit te vind of die bestraling gewerk het. Ses maande later het ons uitgevind die kanker is weg. Ons onkoloog het in sy eie woorde gesê die Here het my man genees. Nie een keer nie, maar drie keer.”

Desember weer siek

“Die volgende jaar Desember het my man weer siek geraak en het gekla van sy heup wat seer is. Hy het ook baie gewig verloor. Die dokter het bestraling op sy heup gedoen net om die gewas kleiner te maak en dit vir hom gemakliker te maak. Die gewas het op ’n senuwee gesit. Hy sou vir nog behandelings gaan, maar hy het net so vinnig agteruitgegaan en is in Augustus 2018 oorlede.”

Deel drie van hierdie storie word môre geplaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: