April 17, 2021

Die Here dra my deur – deel 1

Elouise vertel sy en haar man het uitgevind Lané is blind toe sy ses maande oud was.

Die Here dra my deur – deel 2

Die Here dra my deur – deel 2 Foto: Verskaf

Haar middelste dogter is blind en outisties, haar laatlammetjie is blind gebore en haar man is oorlede aan kanker, maar Elouise Scheepers (42) van Hopetown sê sy sou nie gewees het waar sy vandag is as dit nie vir die Here se genade en liefde was nie.

Hier vertel sy haar storie van baie hartseer en ook baie liefde en seën aan FiND iT.

Elouise is die ma van drie kinders. Haar oudste seun (17) is nou in gr.11 en sy sê hy is ’n tipiese tiener wat graag sy leerlinglisensie wil hê. Haar middelste dogter (15) is outisties en is blind gebore.

Elouise en haar oorlede man het ook ’n laatlammetjie (7) gehad wat blind gebore is.

“My dogtertjies het albei Leber congenital amaurosis. Dit is ’n genetiese toestand.”

Here berei haar voor

“Voor Lané (15) gebore is, het die Here vir my gesê sy gaan blind wees. Ek het nie eintlik ag geslaan daarop nie. Mens dink mos nooit aan hierdie tipe goed nie.”

“Ek het heeltyd tydens my swangerskap die gevoel gekry dat iets fout is met haar, maar my swangerskap met haar was gesond. Ek kon nie my vinger daarop lê nie, maar ek het geweet.”

“Ek het elke dag gebid vir ’n gesonde baba en dokters het niks abnormaal gevind nie.”

LEES OOK: Hartaanvalle en water – het jy geweet?

Vind op ses maande uit

Elouise vertel sy en haar man het uitgevind Lané is blind toe sy ses maande oud was.

“Haar ogies het van tyd tot tyd bietjie gespring, maar verder was daar fisies niks met haar oë fout nie. As ek vir haar melk of pappies gegee het, het sy haar mond oopgemaak en geëet.”

“As ek nou terugkyk na daai tyd, dan voel ek ek moes dit agtergekom het, maar ek dink ons het eenvoudig net nie geweet nie.”

“Lané was as baba baie siek gewees. Sy het koors gekry, dan longontsteking en so het dit aangegaan. SY was elke ses weke in die hospitaal. Elke keer as sy moes hospitaal toe gaan, het die Here iemand op my pad gestuur met wie ek moes praat en vir wie ek my storie moes vertel.”

“Die Here het gereeld vir my die Skrif uit Psalm 138 vers 8 gegee, waarin daar staan: ‘Die Here sal alles goed laat verloop.’ Elk keer wanneer ek daai vers gekry het, het ek geweet Lané gaan siek raak. Sowaar binne ’n dag of twee het sy altyd so siek geraak dat ons hospitaal toe moes gaan en elke keer was daar iemand met wie ek moes praat.”

LEES OOK: Nege dinge wat elke man van miskrame moet weet

Moes storie met mense deel

“Elke keer moes ek dieselfde storie met hulle deel. Ons het in Desember uitgevind Lané se dokter vermoed sy is blind. Ons moes daai Januarie Bloemfontein toe gaan om ’n spesialis te gaan sien. Ons finansies was uitgeput en ons het net R250 in ons bankrekening oorgehad.”

“Ek kon toe plek vir ons vir die aand by ’n gastehuis kry wat ons R240 sou kos. So het ons die pad aangedruf Bloemfontein toe. Ons het sommer kos van die huis af geneem, aangesien ons nie geld gehad het nie.”

“Op pad Bloemfontein toe het daar ’n SMS op my man se foon deurgekom en ’n debietaftrekking van R240 het afgegaan. Ons was reeds halfpad en kon nie terugdraai nie. Ek het begin bid en die Here gevra om vir ons te voorsien. Hy het vir my die vers van 2 Kronieke 20 :22 gegee en gesê ek moenie bekommerd wees nie, ek moet hom net loof en prys.”

“Ek het aangehou bid en vertrou en my man se foon het weer ’n paar keer SMS’e gekry. Toe ons in Bloemfontein stop, het ons R10 000 in die bank gehad wat verskeie mense vir ons inbetaal het sonder dat ons vir hulle gesê het ons het geld nodig. Net die Here het van ons situasie geweet.”

Deel twee van hierdie storie word môre geplaas.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: