April 21, 2021

Valskermsoldaat wat val oorleef, praat

Van der Berg vertel hoe hy ’n snaakse gevoel gekry het toe hy die dag van die ongeluk in 2015 die vliegtuig betree het.

“Ek wou nog altyd weermag toe gaan. Dit was teen my pa se wense, hy wou hê dat ek ’n graad agter my naam kry.” (Foto: Verskaf)

“Ek wou nog altyd weermag toe gaan. Dit was teen my pa se wense, hy wou hê dat ek ’n graad agter my naam kry.” (Foto: Verskaf)

GQEBERHA. – “Ek het dadelik my noodvalskerm getrek, maar dié het nie eers oopgegaan of uit sy sak geskiet soos dit moes nie. Dit het my nege sekondes geneem van die vliegtuig tot op die grond.”

Roedolf van der Berg (29), valskermsoldaat van Gqeberha, vertel hoe hy nie toegelaat het dat ’n valskermongeluk hom onderkry nie.

“Ek wou nog altyd weermag toe gaan. Dit was teen my pa se wense. Hy wou hê ek moet ’n graad agter my naam kry,” vertel Van der Berg. “Ek het toe besluit om my onderwysgraad te kry en het daarna by die weermag aangesluit.”

Rowwe ervaring

Voordat hy by die Kimberley- militêre basis meer geleer het oor verskillende vliegtuie en hoe om hulle met kanonne uit die lug uit te skiet, het hy ’n “rowwe ervaring” in Oudtshoorn gehad toe hy basiese militêre opleiding ontvang het.

“Ek het myself daarna reggekry vir spesiale magte-opleiding. Die kursus, wat insluit om uit vliegtuie te spring, was nie sommer vir enige mens bedoel nie,” vertel hy. “Jy moes fisies en geestelik sterk wees om gekies te word om te gaan.”

“Honger en dors wees is die eerste dinge wat mense laat tou opgooi, dan die nagte sonder slaap. Minder as 5% van soldate maak dit daar.”

Lewe sou vir ewig verander

Na Van der Berg vir hierdie opleiding gekies is, het die kursusse, wapenopleiding en springopleiding begin. “Min het ek geweet dat my lewe vir ewig sou verander.”

“Dit was altyd vir my so mooi daar bo.”

Van der Berg vertel hoe hy ’n snaakse gevoel gekry het toe hy die dag van die ongeluk in 2015 die vliegtuig betree het. Hulle het op 1 200 voet die groen lig gekry om te spring.

Hoofvalskerm, noodvalskerm

Lees ook: Voormalige president FW De Klerk met kanker gediagnoseer

“Net na ek gespring het, het ek besef dat my hoofvalskermlyne 100% om mekaar gedraai het. Ek het dadelik my noodvalskerm getrek, maar dié het nie eers oopgegaan of uit sy sak geskiet soos dit moes nie. Ek het toe dadelik my noodvalskerm probeer uitgrawe om hom te help oopmaak om my lewe te red. Dit het my nege sekondes geneem van die vliegtuig tot op die grond.”

“Soos ek daar in die bos lê, kon ek nie asem haal nie en al het ek geen pyn gehad nie, kon ek voel my skouer was gebreek. Ek het myself forseer om deur alles wakker te bly.”

Van der Berg het sy linkerskouer, linkerenkel, regterknie en drie van sy rugwerwels gebreek. Hy is dadelik van daar na die hospitaal gejaag.

‘Hoekom is jy nie dood nie?’

“Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het myself gevra: ‘Hoekom is jy nie dood nie?’ Toe besef ek boonop dat ek my familie agt maande gelede gesien het en vandag sterf ek sonder om te groet!”

Van der Berg moes na al die toetse by die hospitaal sy familie bel en vir hulle sê om vir hom te kom totsiens sê. “Die dokters het nie geweet of ek dit sou maak tot die volgende dag nie.”

Hy moes vir ’n week doodstil lê voor die dokters aan hom kon opereer. Na ’n week die hospitaal het die dapper Van der Berg (toe 23) besluit om te probeer opstaan en weer te probeer loop. “Ek moes weer leer loop en vir ’n topfiks jong man van 23 jaar oud was dit baie moeilik om te aanvaar.”

Ander inspireer

Lees ook: Ses gewapende verdagtes gesoek ná plaasaanval

Hy sê hy wil vandag graag ander inspireer deur sy oorlewingsverhaal en ander wat ook met PTSD sukkel, help. “Ek is deur baie, ek weet wat pyn is en wat dit aan ’n mens doen. Ek is vandag 61% gestremd, maar jy sal dit nooit sê nie. Ek is wel ’n bietjie ronder, maar deur positief te bly ten spyte van alles het ek vrede gemaak en is ek net dankbaar ek leef.”

“Wat met my gebeur het, is bewys dat daar niks is wat ’n mens nie kan deurmaak nie en dat hoe jy so ’n situasie hanteer, baie belangrik is.”

As jy miskien ook met PTSD sukkel of dalk met iemand wil praat wat deur dieselfde is, stuur vir Van der Berg ‘n e-pos by [email protected] of WhatsApp na 081 725 4049.

Het jy ‘n inspirerende, motiverende of emosionele storie om te vertel? Iets wat iemand anders dalk deur ‘n moeilike tyd sal help? Dalk ‘n wonderwerk wat jy ervaar het?

Stuur ‘n e-pos na [email protected] en dalk skryf ons oor jou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: