SOMERSET-WES. – Daar word Vrydag ‘n gedenkdiens gehou vir Francois Visser (58), ‘n geliefde hoërskoolonderwyser van Hoërskool Parel Vallei, wat verlede Maandag skielik in sy klaskamer oorlede is.
FiND iT het voorheen berig paramedici is na die skool ontbied, maar Visser is op die toneel dood verklaar.
Visser was vir 32 jaar as vakhoof van Ontwerp by Hoërskool Parel Vallei. Hy het skoliere se “lewens letterlik en figuurlik ingekleur met sy pittige sêgoed, unieke planne en stille liefde”.
Lees ook: Onnies wat draf langs die pad doodgery
“Ons groet Meneer Kwas, soos ons hom altyd genoem het, maar sy kleurvolle stempel sal altyd op PV rus,” sê die skool in ‘n verklaring.
Die herinneringsgeleentheid sal Vrydagmiddag om 12:15 op Facebook uitgesaai word. Hou FiND iT dop as jy na die uitsending wil kyk.



