Oos-Kaapse boer sterk goed aan na plaasaanval

Deel hierdie storie / Share this story

KIRKWOOD. – Johannes de Lange, ‘n boer van Kirkwood in die Oos-Kaap, sterk goed aan in die hospitaal ná ses verdagtes hom verlede week op sy plaas aangeval het.

FiND iT het voorheen berig een van die aanvallers is gedurende ‘n stoeiery met De Lange doodgeskiet en nog een is beseer.

Die VF Plus het De Lange in die hospitaal gaan besoek en sê dat hy binnekort weer na sy plaas en gesin sal kan terugkeer.

“Die VF Plus is besorg oor die Oos-Kaap se boerderygemeenskap en is dit eens dat roekelose uitsprake deur sekere politici en politieke partye oor grond wat gesteel is en onteiening sonder vergoeding, gesien kan word as aanhitsing tot plaasaanvalle en -moorde,” sê Piet Mey, Oos-Kaapse provinsiale leier van die VF Plus.

Lees ook: Boer (70) aan sy voertuig vasgemaak, aangerand en verwurg

“Plaasaanvalle, roof en veediefstal het ‘n enorme impak op die Oos-Kaap se voedselsekuriteit, ekonomie en werkskepping.”

“Sommige boere staak bloot hul boerderybedrywighede en dit lei tot groter werkloosheid in landelike gebiede.”

“Dit bring ook mee dat plaaslike produksie aangevul moet word vanaf ander dele van die land wat die prys van goedere opjaag.”

Die VF Plus moedig inwoners van landelike gebiede aan om by hulle plaaslike buurt-, plaaswagte en gemeenskappolisiëringsforums aan te sluit en hul persoonlike sekuriteitsmaatreëls te verskerp.

“Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om die veiligheid van veral inwoners van landelike gebiede te prioritiseer,” sê Mey.

Lees ook: Harry: ‘Ek het nooit besef ek was ‘n gevangene nie’