Boer (70) aan sy voertuig vasgemaak, aangerand en verwurg

Deel hierdie storie / Share this story

NELSPRUIT. – ’n Boer (70) se liggaam is Maandag op sy plaas op Ogies gevind waar hy met nylontou aan sy voertuig vasgebind was.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê Bertus Steenberg se familie het bekommerd geraak toe hulle hom vir ’n tyd lank nie in die hande kon kry nie.

Lees ook: Meghan Markle: ‘Hulle was bekommerd oor Archie se velkleur’

Steenberg het alleen op die plaas, Leeupoort, gewoon en sy familie het Donderdag laas met hom kontak gehad. “Sy familie het toe sy buurman gekontak om te gaan kyk of alles pluis is. Dis toe dat hulle die plaashuis omgekeer gevind het. Steenberg het leweloos gelê en was aan sy bakkie vasgemaak.”

Die buurman het toe die polisie en nooddienste in kennis gestel en Steenberg is op die toneel dood verklaar.

Volgens brig. Hlathi is Steenberg aangerand en van sy besittings beroof voor hy verwurg is.

Lees ook: Kby-inwoner maak self lekkasie reg

Die polisie vra die gemeenskap se hulp om die verdagtes, wat in Steenberg se wit Toyota Hilux-bakkie gevlug het, op te spoor.

Indien jy enige inligting het wat die polisie in die verband kan help, skakel vir sers. Audrey Nkosana Khoza by 082 604 1339.