Verdagte tydens aanval op kleinhoewe doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

KIRKWOOD. – Drie verdagtes tussen die ouderdomme van 25 en 50 jaar oud is vanoggend om 03:30 in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord en huisroof.

Kol. Sibongile Soci, polisiewoordvoerder, sê ten minste vyf verdagtes het na bewering vanoggend om 02:30 ‘n plaaseienaar en sy familie op hulle kleinhoewe met messe en ‘n geweer aangeval.

“Een van die aanvallers is gedurende ‘n stoeiery met die eienaar doodgeskiet en nog een is beseer. Die ander drie verdagtes het saam met die beseerde een in ‘n silwer Toyota Avanza gevlug,” sê kol. Soci.

Die polisie is in kennis gestel en het dadelik reageer. Volgens kol. Soci het die polisieondersoek tot die verdagtes se inhegtenisname gelei. Die verdagtes is op die R75 naby die Kariega-area in Kirkwood voorgekeer.

Die verdagtes verskyn Vrydag 5 Maart in die landdroshof.

Die polisie is besig met ‘n ondersoek om vas te stel aan wie die voertuig behoort.