Die langverwagte onderhoud tussen Oprah Winfrey en prins Harry en Meghan Markl is Sondag op CBS uitgesaai. Hier is die grootste onthullings wat in die onderhoud gemaak is.
Meghan se eerste ontmoeting met die koningin
Meghan vertel sy sou middagete by die Royal Lodge hê. Harry het haar gevra of sy weet hoe om te curtsy, wat haar geskok het. “Ek het regtig gedink dit is wat buite gebeur. Ek het nie geweet dis wat binne ook gebeur nie. Ek het gesê: ‘Maar dis jou ouma.’ En Harry het my geantwoord: ‘Dis die koningin.’”
Meghan het toe vinnig geleer curtsy.
Die paartjie se geheime trouseremonie
“Drie dae voor ons troue is ons getroud. Niemand weet dit nie,” vertel Meghan. “Ons het gesê kyk, die ding is vir die wêreld. Maar ons wil ons troue tussen ons hou, sodat ons troubeloftes wat ons in ons kamer gemaak het, tussen ons en die Aartsbiskop van Canterbury bly.”
Lees ook: Gebrek aan ondersteuning het Harry en Meghan weggedryf
Oor stories dat sy Kate laat huil het
Meghan Markle sê sy het Kate Middleton nié voor haar troue laat huil nie, maar Kate het haar laat huil. “Dit was ’n baie moeilike week van die troue en sy was ontsteld oor iets,” sê Meghan. “En ja, dit het my laat huil. Maar sy het agterna vir my kom jammer sê en vir my blomme gegee met ’n jammersê-briefie. “Sy het gedoen wat ek sou doen as ek geweet het ek het iemand seergemaak.”
“Dis skokkend dat ses, sewe maande na ons troue, die wêreld ’n wanpersepsie gehad het van wat gebeur het.”
Bekommernis oor Archie se velkleur
Meghan, wat ook in die onderhoud onthul het dat sy ’n babadogtertjie in die Amerikaanse lente verwag, praat dan oor die tyd dat sy swanger was met Archie. “Daar was bekommernis en gesprekke oor hoe donker sy velkleur gaan wees as hy gebore is.”
Lees ook: Seun (8) uit krokodil se maag gesny
Meghan oor selfdoodgedagtes
“Ek het nooit vantevore so gevoel nie en ek het nodig gehad om iewers te gaan om hulp te kry,” vertel sy. “Daar is vir my gesê ek kan nie, omdat dit die koningshuis sou laat sleg lyk.”



