Die onderhoud waarin Meghan Markle (39) en prins Harry (36) hulle harte teenoor Oprah Winfrey uitstort, word vandag uitgesaai.
Dié koninklike egpaar het aan die begin van 2020 besluit dat hulle na Amerika gaan verhuis en van hulle koninklike pligte gaan onttrek. Hulle besluit is na ‘n jaar heroorweeg en daar is verlede maand aangekondig die besluit is nou permanent.
Lees ook: Ruan Joubert sterf na jare in semi-koma
In ‘n gedeelte van die onderhoud wat reeds beskikbaar is, sê Meghan dat dit vir haar bevrydend is om namens haarself te mag praat. Oprah het haar glo in 2018 reeds gekontak en gevra vir ‘n onderhoud, maar Meghan het vir haar gesê ‘dis nie die regte tyd nie’.
Verder vertel Meghan dat sy en prins Harry nou in die posisie is om hulle eie besluite te kan neem en daarom is dit nou die regte tyd vir die onderhoud.
“As ‘n volwassene wat nog altyd ‘n onafhanklike lewe gelei het en dan skielik ‘n koninklike lewe moet leef, ek dink dis baie anders as wat mense hulle indink.”
Prins Harry verwys ook in die onderhoud na sy ma, prinses Diana, en sê hy kan nie dink hoe moeilik dit destyds vir haar moes wees nie. “Ek sit nou hier met my vrou aan my sy en ek kan my nie indink hoe moeilik dit soveel jare terug vir haar (prinses Diana) moes wees om die proses alleen deur te maak nie.”
Die res van dié onderhoud word vandag uitgesaai. Dit word ook môre om 19:00 op MNet uitgesaai.



