AUSTRALIË. – ‘n Ma (53), wat al 18 jaar in die tronk sit ná sy skuldig bevind is aan die moord op al vier haar kinders, het toe dalk nié haar kinders versmoor nie.
Kathleen Folbigg van Australië het 30 jaar tronkstraf gekry toe sy in 2003 skuldig bevind is daaraan dat sy binne ‘n tydperk van 10 jaar al vier haar kinders versmoor het.
Nuwe bewyse van DNS-data van die kinders toon nou egter dat ten minste twee van Folbigg se kinders kon sterf as gevolg van ‘n harttoestand. Wetenskaplikes ondersoek nog die moontlikheid dat haar ander twee kinders ook ‘n ander genetiese mutasie gehad het wat hulle dood kon veroorsaak.
Lees ook: Tiener verloor amper vinger oor naels kou
Die groep van 90 wetenskaplikes en dokters het nou ‘n petisie geteken wat aan die goewerneur oorhandig is om Folbigg uit die tronk te kry en vry te spreek.
Sy is skuldig bevind op grond van inskrywings in haar dagboek.
“Nog ‘n jaar wat verby is en nog ‘n jaar wat voorlê. Ek het ‘n baba wat op pad is wat groot opofferings vir beide van ons beteken, maar ek weet dit gaan hierdie keer goed gaan,” het sy geskryf. “Hierdie keer sal ek vra vir hulp, ek gaan nie probeer om alles alleen te doen nie. Ek weet dit was voorheen die rede vir al my stres en stres het my aaklige dinge laat doen.”
Nog ‘n inskrywing lui: “Ek voelsoos die slegste ma op aarde. So bang sy los my soos wat Sarah het. Ek weet ek was kort van humeur en soms lelik met haar en sy’t gegaan. Met ‘n bietjie hulp.”
Lees ook: Covid-19: Dokter doen huisbesoek sodat pasiënte tuis kan bly
Folbigg het later verduidelik die hulp waarvan sy praat, is ‘van ‘n hoër krag of God afkomstig’.
Tracy Chapman, Folbigg se vriendin, besoek haar steeds weekliks in die tronk en sê volgens Folbigg gaan dit nie net oor haar saak nie, maar oor alle ma’s, sodat dit nie met ‘n ander vrou of gesin hoef te gebeur nie.”



