My stryd teen kanker – ’n tweede keer

Deel hierdie storie / Share this story

“As ek nou tot sterwe kom, het ek iets om na uit te sien. Wie wil nie by die Here wees nie? Wie wil nie daar wees waar geen pyn en lyding is nie? As ek bly lewe, jhet ek ook iets om na uit te sien! Dit wat ek makeer, is niks. Daar is nie tyd om op ’n hoop te sit en jouself jammer te kry nie. Kry jouself in orde en maak reg met jou Here. Maak reg met jouself.”

Jenny Mynhardt van Walvisbaai in Namibië, vertel van haar stryd teen die groot K, die pad wat sy tot dusver gestap het en hoe sy weier om op te hou veg.

“My man is so vier jaar gelede aan breinkanker oorlede. Hy was nie eers ‘n volle twee jaar oorlede nie, toe is baarmoederkanker by my ontdek. Dit was vir my ‘n groot skok, want ek het my oorlede man versorg tot op ‘n punt waar ek nie meer kon nie,” vertel sy. “Ons het in ‘n dubbelverdieping-woonstel gebly en ek kon hom nie afdra nie, ek kon net nie meer alleen na hom kyk nie. Hy is toe na ‘n versorgingsentrum toe.”

“Toe word ek ook met kanker gediagnoseer. Dis toe dat ek vir die eerste maal besef wat kanker regtig is. Jy sien hoe dit is wanneer jy iemand versorg, maar wanneer jy dit self het, is dit ‘n heel ander storie.”

“Ek is aanvanklik met eierstokkanker én baarmoederkanker gediagnoseer, maar toe ek in Windhoek kom vir behandeling, het hulle vir my gesê daar is nie kanker in my eierstokke nie, net in my baarmoeder. Al hoe hulle my kon help, was deur chemo en bestraling.”

“Ek moes toe in Huis Akasia in Windhoek gaan bly saam met ander kankerlyers wat ook behandeling in Windhoek moes ontvang. Daar het ek die mooiste en wonderlikste mense ontmoet.”

Lees ook: Peuter in ma se arms op pad na hospitaal dood

“Hy het ’n bietjie siek voorgekom en het heeltyd gehuil,” sê sy. “Sy ouers was in hierdie stadium reeds twee dae lank oor sy gesondheid bekommerd, maar dit was op daardie dag erger.”

Mynhardt het vir nege weke elke week chemoterapie ontvang en daagliks bestraling gekry. Sy vertel hoe sy deurentyd positief gebly het en hoe haar positiewe houding die ander kankerpasiënte se dae ook opgebeur het.

“Dié wat soms ’n bietjie af was, het ek dan sommer ’n drukkie gegee en gesê: “Moenie worry nie, ons staan saam met jou. Moenie ingee nie. Ons sal mekaar se hande vat en hierdie pad saam stap, al ken ons mekaar nie. Ons het mekaar ondersteun. Ek het ná my behandeling steeds kontak gehad met van die mense en hulle het vir my dankie gesê dat ek hulle so geïnspireer het om aan te hou veg.”

“Ek was skaars skoon gewees van daai kanker, toe kry ek die volgende. Ek het een nag wakker geword en ek wou omdraai en toe voel ek hier is ’n pyn. Ek het eers gedink dis ’n wind, maar toe ek so vyf dae later dieselfde oorkom, het ek begin dink iets is fout.”

Toe Mynhardt uiteindelik dokter toe is en vir X-strale en sonars was, het dokters iets op haar lewer en haar long raakgesien. “Hulle het gesê daar is ’n kol op my lewer, maar daar is nie rede om oor die kol op my long bekommerd te wees nie.” Sy is hospitaal toe sodat die kol op haar lewer verwyder kon word.

“Dit was die mees traumatiese ding wat ek al ervaar het. Jy gaan nie in teater toe nie, jy lê sommer daar in die sonarkamer en jy is wakker terwyl die dokter sy ding doen. Dit was seker so tien minute na hy met my klaar was, dat my liggaam in skok gegaan het. Die linkerkant van my lyf het eers lam geraak voordat ek begin sukkel het om asem te haal. Hoe meer ek probeer sê het ek kry nie asem nie, hoe meer het die dokter vir my gesê ek moet net relax.”

Mynhardt is toe in die intensiewesorgeenheid aan hartmasjiene gekoppel en vir 24 uur dopgehou voor sy ontslaan is.

Volgens die dokters was Mynhardt se lewer in die stadium skoon en het sy nie kanker gehad nie.

“Drie maande later het ek weer die nag wakker geword en ek kon nie meer die pyn hou nie. Ek het myself die volgende dag in die hospitaal ingeboek en so het die toetse van voor af begin.”

“Toe sê hulle vir my my lewer is vol kolle. ’n Paar uur later het hulle vir my die uitslae gegee. Fase vier lewerkanker. Dit was die grootste skok wat ek al ooit in my lewe gekry het, veral omdat hulle voorheen vir my gesê het ek is kankervry.”

Lees ook: Verlos van tik: My tweede kans na dwelms

“Ek het my ma vanuit die tronk gebel en vir haar gesê ek is jammer, maar sy was te seergemaak. Ek moes toe my kar verkoop om ons borggeld te kon betaal.”

Mynhardt is nou besig met ses maande chemobehandeling en kry Woensdag haar laaste behandeling.

Sy sê haar familie is vir haar ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk.

“Ek het ’n bietjie anders as ander grootgeword. My pa was ’n priester en in ons huis het jy nie gesê ek kan dit nie doen nie, jy het nie gesê ek wil dit nie doen nie, jy het nie gesê ek weet nie hoe om dit te doen nie. Jy het gesê dis reg, ek kan dit doen, al het ek dit nog nie gedoen nie, ek weet ek kan.”

“Mense kom altyd na my toe en sê: ‘O, ek is so jammer.’ Dan sê ek vir hulle moenie jammer wees nie. Elkeen gaan deur sy eie einas en slegte dinge en positiewe dinge. As iemand my vra hoe gaan dit met my, dan sê ek altyd dit gaan goed!”

“As jy positief dink en jy bly positief en sien die mooi in die lewe raak, staan soggens op en luister na die klanke buite, haal diep asem en maak jou oë toe en sê hoe wonderlik is dit om te sien en te hoor… Dis die dinge waarvoor jy moet dankbaar wees.”