VANDERBIJLPARK. – JJ en Ronel Steyn se wêreld is omvergegooi na hulle tweejarige seuntjie op 19 Februarie op pad na die hospitaal in sy ma se arms oorlede is.
Klein Stefan Steyn (2) is vanmiddag vanuit die Rock of Ages-gemeente in Vanderbijlpark begrawe.
Magda Lourens van Active Angels, ’n liefdadigheidsorganisasie, vertel Ansie Terblanche, Stefan se ouma, het hom die dag na die plaaslike dokter geneem. “Hy het ’n bietjie siek voorgekom en het heeltyd gehuil,” sê sy aan Huisgenoot. “Sy ouers was in hierdie stadium reeds twee dae lank oor sy gesondheid bekommerd, maar dit was op daardie dag erger.”
Lees ook: Vrou vir 3 weke in koma ná haar vel ‘af brand’
‘n Vrou se rare allergiese reaksie op antidepressante was só intens dat haar vel van haar gesig af gebrand het en sy vir drie weke in ‘n koma geplaas moes word.
Omdat JJ en Ronel beide gestremd is en nie self kon bestuur nie, het Ansie bestuur. JJ en Ronel was saam in die kar.
“Stefan is deur die dokter ondersoek en sy familie is dadelik aangeraai om hom na die hospitaal te neem,” sê Magda.
“Stefan het op pad na die hospitaal, in sy ma se arms, ophou asemhaal. Hulle het met hom teruggejaag na die plaaslike dokter, maar hy kon niks vir Stefan doen nie.”
Die nadoodse ondersoek het volgens Magda getoon dat klein Stefan aan ’n hartdefek oorlede is. Hy het ook aan bloedarmoede gely.
Active Angels, die begrafnisonderneming Fira en LGB Funerals het besluit om die ouers, wat op staatstoelae leef, finansieel by te staan met die begrafnis.
“Geen woorde kan ons dankbaarheid teenoor LGB Funerals beskryf nie,” sê Magda. “Sonder hulle sou daar nie ’n begrafnis vir Ronel en JJ kon wees nie.”
“Hy is nou veilig en sonder pyn.”



