“Kat-en-muis-speletjies” met dronkbestuursaak, sê beskuldigde

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Lionel Robinson, ’n besigheidsman van Stilbaai, sê die staat “speel kat-en-muis-speletjies” in die saak van nalatige en dronkbestuursaak teen hom.

Die saak, wat sedert 2016 sloer, is meer as tien keer in die Springbok-landdroshof uitgestel, onder andere omrede die landdros af siek was en later weens ’n kursus onbeskikbaar was, sê Robinson. 

Robinson beweer hy is op vals aanklagte op Springbok in hegtenis geneem. Lees ons vorige berigte, LUR ignoreer duisend kilometer afspraak en Klag skok LUR van veiligheid.

Dossier verdwyn

Volgens dokumente wat Robinson aan FiND iT gewys het, het die oorspronklike dossier op ’n onverklaarbare wyse weggeraak.

Verkeerde inligting op dossier ingevul

Verskeie foute kom in die dossier voor. In een gedeelte is die beskuldigde se van verkeerdelik as “Robensen” ingevul.

Volgens dr. Francois Fourie se verslag, het hy ’n bloedmonster ’n uur na die voorval geneem en verwys hy verkeerdelik na die beskuldigde as Lionel Wessels.

Nie die dokter of polisiebeamptes wat die monster hanteer het het die nodige gedeeltes ingevul en geteken om die hantering daarvan te verifieer nie.

’n Verklaring van Carl Johannes Erasmus, ’n polisiebampte wat op die toneel was, het verkeerdelik in sy verklaring aangedui dat hy ’n “vrou“ is.

Die dossier wemel met soortgelyke foute, sê Robinson.

Dronkbestuur net hoorsê

Volgens getuies is daar net hoorsê dat Robinson tydens sy arrestasie onder die invloed was, geen verklaring noem dat Robinson na drank geruik het nie.

Volgens sers. Rudolph de Jongh se getuienis het beamptes oppad na die vangwa hulleself eers as polisie aan Robinson geïdentifiseer. Volgens Robinson was hy reeds in die vangwa toe beamptes hulleself geïdentifiseer het.

Uitgerekte hofsaak is traumaties

Robinson sê alhoewel die staat weet dat hulle nie ’n saak teen hom het nie, sloer hulle steeds daarmee. Dit plaas ’n geweldige finansiële druk op hom wat vanaf Stilbaai na Springbok moet ry net om te hoor die hofsaak is weer uitgestel. Dit is traumaties, sê hy.

Robinson sê hy sal binnekort weet of die saak uitgegooi gaan word, of hy gaan op 11 Maart weer in die Springbok-landdroshof verskyn.

FiND iT het navraag by Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgings gesag, gedoen, maar het nie betyds vir publikasie terugvoering ontvang nie.