Klag skok LUR van veiligheid

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Lionel Robinson, ’n oud-polisieman, het vandag met Nontobeko Vilakazi, die LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling in die provinsie, vergader om ’n saak van magsmisbruik te bespreek.

Dit kom nadat Robinson volgens hom onregmatig op 26 Oktober 2016 vir dronkbestuur in hegtenis geneem is. Lees ons vorige berig, LUR ignoreer duisend kilometer afspraak.

Robinson het sy saak en klagtes aan die LUR verduidelik. Sedert sy eerste verskyning in 2016 is die saak twee keer teruggetrek. Dit is weer geopen en hy het sy tweede verskyning bykans drie jaar later, verlede week op 6 September, gemaak. 

Ondersoek sloer

’n Saak van diefstal, aanranding en onregmatige arrestasie is in Februarie by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) teen die arrestasiebeampte geopen.

Robinson sê ’n aantal ondersoekbeamptes het die saak ondersoek. Dit word keer op keer aan ’n nuwe beampte oorhandig, verduidelik hy.

Geen berading vir trauma ontvang

Robinson sê die voorval was traumaties. “As ’n polisieman het ek baie verdagtes in die selle gegooi, maar dit was die eerste keer wat ek dit aan die anderkant ervaar.”  Hy is na bewering deur polisiebeamptes in die aanhoudingselle aangerand.

Robinson sê hy voel hartseer dat ’n mede-polisieman hom so kon seermaak. Hy het skietwonde op sy liggaam uitgewys waar bendes hom geskiet het terwyl hy in die Kaapse polisiediens was. Hy sê hy het geen berading vir die trauma gekry nie.

LUR geskok na Robinson se getuienis

Vilakazi sê sy is geskok dat Robinson se saak vir jare ondersoek word. Sy sê soortgelyke sake vir dronkbestuur word in die bestek van ’n maand of twee afgehandel.

Die departement gaan nou die saak met die OPOD opneem vir verdere ondersoek.