Man wat polisieman skiet – saak uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ’n Man wat na bewering ’n polisieman geskiet het, se saak is na die Barkly-Wes-landdroshof geskuif.

Thabiso Veleko (38) staan tereg op aanklag van poging tot moord op ’n polisieman, asook op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Veleko se borgtogaansoek is vroeër dié week deur landdros M. Qomoyi afgekeur.

Gesteelde motor

Hy het na bewering in Desember van 2015 ’n polisievrou se privaat motor’n Jeep ter waarde van R350 000, op Kuruman gesteel.

Sers. Mzimkhulu Dube, die ondersoekbeampte, sê die motor waarmee die verdagte gery het, het tussen Kuruman en Danielskuil sonder brandstof gaan staan. Veleko het toe te voet gevlug. “Polisiebeamptes het vanaf Kuruman in Danielskuil se rigting gery op soek na die gesteelde motor.”

Polisieman raakgeskiet

Kol. Rudolph Louwrens, ondersoekbeampte van die Hawks, het tydens sy getuienis gesê die honde-eenheid is ook uitgeroep en het Veleko tot in ’n veld gevolg. “Veleko het ’n polisieman in die bors, by sy hart, raakgeskiet. Gelukkig het die polisieman ’n koeëlvaste baadjie aangehad.”

Roof by vulstasie

“Hy is op 18 Maart 2016 in Kimberley deur die HAWKS in hegtenis geneem. Hy was in besit van ’n Porsche-motor en vyf selfone. Na verdere ondersoek het ons uitgevind oor ’n roof wat by ’n vulstasie op Barkly-Wes plaasgevind het,” het kol. Louwrens getuig.

Veleko het na bewering onder andere geld en selfone by die vulstasie gesteel. “Die selfone, wat in die motor was, is deur die werkers by die vulstasie uitgeken.”

Saak uitgestel

Sy saak is tot 16 September 2019 uitgestel en sal in die Barkly-Wes-landdroshof voortgaan. Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofdatum.