KIMBERLEY. – Jack Hermans (20), wat die titel as Mnr. Noord-Kaap verower het, is passievol oor onderwys en wil die kultuur van die Noord-Kaap leer ken.
Hy het aan Mnr. en Mej. Noord-Kaap, wat vanjaar al 10 jaar bestaan, deelgeneem. Hierdie kompetisie word deur Rolemodels Foundation aangebied.
Studeer
Jack is ’n eerstejaar B.Ed-student (onderwysstudent) aan die Sol Plaatje-universiteit en is van plan om sy graad in 2022 te verwerf. Hy kom oorspronklik van Alexandra, ’n klein dorpie, maar woon tans in Kimberley.
Kultuur van die Noord-Kaap
Hy het vanjaar vir die eerste keer aan ’n modelkompetisie deelgeneem en is as Mnr. Kampus 2019 van die Sol Plaatje-universiteit aangewys. “Ek is geëerd om gekroon te word as Mnr. Noord-Kaap en my plan met hierdie titel is om die geleentheid te gebruik om eintlik te leer oor die kultuur in die Noord-Kaap, asook die mense hier. My grootste prioriteit is om ’n helpende hand na die gemeenskappe, veral die minderbevoorregtes, uit te reik.”
Mej. Noord-Kaap
Hy sê hy sien uit daarna om hand aan hand met Shantille Klaase, Mej. Noord-Kaap, te werk om die jeug van die Noord-Kaap te beïnvloed om te streef na grootsheid.

Toekennings
Jack het nie net die titel as Mnr. Noord-Kaap verower nie, maar het ook toekennings vir Meneer Persoonlikheid en Meneer Fotogenies ontvang.
Toekomstige leiers
“Ek wil die jeug bereik en help om hulle te vorm om toekomstige leiers van hierdie wonderlike land te word,” sê hy.




