KIMBERLEY – ’n Man het vanaf Stilbaai gery vir ’n afspraak met die LUR vir veiligheid in die provinsie, Nontobeko Vilakazi. Hy wou ’n saak van magsmisbruik in die polisiediens bespreek, net om uit te vind die LUR is nie beskikbaar nie.
LUR mis vergadering oor klagtes van magsmisbruik
Lionel Robinson, ’n oud-polisieman, het gesê dit is onaanvaarbaar dat hy 845 km gery het vir ’n vergadering wat vooraf gereël was, en niemand by die LUR se kantoor is daarvan bewus nie. Hy het gesê hy het eers ’n SMS ontvang om die vergadering uit te stel terwyl hy by ontvangs gewag het.
Die doel van die vergadering was om onder andere ernstige klagtes van magsmisbruik deur polisie in die Noord-Kaap met Vilakazi te bespreek.
Op vals aanklagte in hegtenis geneem
Volgens Robinson is hy in 2016 op vals aanklagte op Springbok in hegtenis geneem.
Robinson het gesê hy het verskeie belange in die Noord-Kaap en hy reis gedurig deur die provinsie, tussen Springbok, Kuruman, Upington en Kimberley, vir besigheid.
Hy het gesê op die dag van sy arrestasie ongeveer 100 km voor Springbok, het hy ’n wit Nissan-bakkie, met donker ruite, wat glo 60 km/h op die nasionale pad gery het, verbygesteek.
Die bestuurder van die bakkie het Robinson na bewering later by ’n vulstasie in Springbok aangekeer terwyl hy geëet het.
Die persoon wat in daardie stadium nog aan Robinson onbekend was, was glo ’n speurder en hy wou Robinson vir roekelose bestuur in hegtenis neem.
Robinson het gesê die man het homself nie as ’n polisiebeampte identifiseer nie. Robinson het homself in sy motor toegesluit. Sy prokureur het hom vervolgens aanbeveel om nie uit sy motor te klim nie, tensy daar gemerkte polisievoertuie op die toneel is. Die speurder het bystand gevra.
Robinson het gesê hy het uit sy motor geklim toe ander vangwaens op die toneel stilhou. Hy het beweer hy was met pepersproei gespuit en aangerand.
Robinson het gesê die wyse waarop die arrestasie uitgevoer was, is verdag en hy glo dit was misbruik van mag. Hy het gesê hy veg nou vir geregtigheid en gaan nie die saak laat vaar nie. Dit maak nie saak hoeveel dit kos nie, het hy gesê.
Ander klagtes wat deur Robinson gelug word, sluit in polisiebeamptes by aanklagkantore in die Noord-Kaap wat na bewering weier om dienste aan Afrikaanssprekendes te lewer en beamptes wat glo eers WhatsApp-boodskappe klaar tik voordat hulle persone help.
Patsy Alley, woordvoerder vir LUR van vervoer, veiligheid en skakeling het gesê Vilakazi kon weens haar gesondheid nie vir Robinson te woord staan nie. Die hoof van die ministerie was beskikbaar en het met Robertson gesels.
Alley het gesê Robertson het ernstige aantygings gemaak, maar die departement wag op die nodige bewyse om dit te staaf.
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder vir die polisie in die Noord-Kaap, het gesê die Springbok-polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur, asook bestuur onder die invloed van alkohol.
Robertson is op 26 Oktober 2016 in hegtenis geneem en het die volgende dag in die Springbok-landdroshof verskyn. Robertson word 6 September in die landdroshof daar verwag. Die ondersoek duur voort.






