LIMPOPO. – Maduvula Norman Hlatswayo (51) het na bewering op 12 Januarie op die luukse AM Lodge private wildsplaas in Hoedspruit verdwyn nadat hy en jagtersvriende glo deur wildbewaarders gevang is.
Kol. Malesela Ledwaba sê drie verdagtes tussen die ouderdom van 37 en 45 jaar is in verband met die beweerde ontvoering in hegtenis geneem.
Hlatswayo en twee van sy vriende het glo op 10 Januarie op die wildsplaas gaan kamp met die doel om te jag. Op 12 Januarie, omstreeks 11:00, is die trio na bewering deur wildbewaarders opgemerk wat geweerskote afgevuur en hulle gevang het. Nadat twee van die vriende vrygelaat is, het Hlatswayo glo verdwyn.
Volgens Ledwaba is die voorval later by die polisie aangemeld, waarna ‘n soektog die Woensdag geloods is, maar Hlatswayo kon nie opgespoor word nie. Die Donderdag is drie verdagtes in hegtenis geneem en van beweerde ontvoering aangekla. Die drie verdagtes verskyn vandag in die Hoedspruit-landdroshof.
Enigiemand met inligting van die voorval word versoek om die ondersoekbeampe sers. Witness Mashele by 081 446 014 te bel.
Die ondersoek duur voort.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



