Vier liggame meters van mekaar ontdek

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT. – Vier liggame is na verskillende insidente in Botshabelo meters van mekaar in en naby ‘n stroom ontdek.

Brig. Motantsi Makhele sê op 22 Januarie is die liggaam van ‘n onbekende man, vermoedelik tussen 45 en 50 jaar oud, deur polisieduikers uitgehaal waar dit in ‘n stroom gedryf het. Die liggaam het verskeie steekwonde in die bors en dye gehad en die keel was gesny. Die hande en voete was vasgebind en klein sandsakkies was om die hande vasgebind.

Lebohang Julia Khutsoane (52) is op 29 Januarie as vemis aangemeld. Op 1 Februarie omstreeks 17:00 is ‘n onthoofde liggaam van ‘n vrou met steekwonde naby Seponerivier aangetref. Die slagoffer se hande was ook vasgebind. Haar identiteit is deur haar familie bevestig.

Terwyl OOP-polisielede na die liggaam se kop gesoek het, het hulle op nog ‘n ontbinde liggaam van ‘n vrou wat ongeveer 50 meter van die eerste toneel gedryf het, afgekom. Sakke met klippe vanaf ‘n treinspoor was aan die liggaam vasgemaak om te keer dat dit dryf.

Terwyl polisielede Vrydag omstreeks 10:00 verder tussen die stroom en treinspoor gesoek het, het hulle op nog ‘n liggaam van ‘n man (43) met steekwonde aan sy hande afgekom. Hy was ook vasgebind, maar is nog nie deur familie uitgeken nie.

Die modus operandi van steekwonde aan die twee manlike en twee vroueslagoffers se liggame is dieselfde. Die plekke waar hulle afsonderlik gevind is, is nie ver van mekaar nie.

‘n Span gesoute speurders ondersoek die vier moorde.

Enigiemand met inligting kan kol. Jamba by 082 455 5968 bel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.