SEEPUNT, WES-KAAP. – ’n Moedelose inwoner van Seepunt het haar verlede week na sosiale media gewend na vele insidente van hoërskoolleerders wat na bewering daagliks motoriste en inwoners treiter.
Cate Williams het ‘n foto op die Atlantic Seaboard Community Forum se Facebook-blad geplaas waarin gesien kan word hoe minstens agt skoolkinders agter op ’n bakkie ingedruk sit. “Hierdie foto is geneem terwyl die bestuurder die kinders gesmeek het om van haar voertuig af te klim. Soos gewoonlik het hulle nie geluister nie,” het sy geskryf. Die voorval het glo in High Levelweg plaasgevind.
Dit is na bewering ’n daaglikse verskynsel. Volgens Williams hardloop die skoolkinders elke dag en spring op bewegende en stilstaande motors in die besige strate. “Saam met die veiligheidskwessies en geraas, vloek die leerders inwoners wanneer hulle uit hulle huise gaan om te sien wat aan die gang is.”
In die plasing noem sy dat talle inwoners al die kwessie by die betrokke skool gaan aanmeld het, maar dat die skool volhou hulle kan niks daaraan doen nie.
Volgens me. Leana Le Breton, skoolhoof, het hulle ook die beeldmateriaal en klagtes ontvang. Volgens haar gaan daar intern teenoor die leerders wat geïdentifiseer kan word, volgens die skool se gedragskode opgetree word.
Bronne: The Atlantic Seaboard Community Forum, Facebook



