PRETORIA, GAUTENG. – ’n Man (28) is Saterdag op die R21-Suid naby die Nellmapius-afrit in hegtenis geneem vir die beweerde besit van 147 bottels hoesstroop wat onder sy sitplek “versteek” was.
Volgens sers. Alfred Legodi is ’n anonieme wenk ontvang. Die verdagte het met ’n wit Toyota Corolla met ’n onbekende registrasienommer gery. “Tydens die deursoeking van die voertuig is daar 147 bottels Broncleer-hoesstroop wat met swart plastiek bedek was, onder die sitplek aangetref,” het Legodi bevestig.
Na raming is die waarde van die hoesstroop R15 000. Die verdagte bly in aanhouding. ‘n Vermoede bestaan na bewering dat hy onwettig in die land is.
Bronne: Pretoria Rekord, Caxton News, The Citizen



