Januarie-uitbranding al hoe meer ’n werklikheid

Deel hierdie storie / Share this story

Teen hierdie tyd van die jaar is die meeste van die idealistiese Nuwejaarsvoornemens saam met die laaste vrugtekoek uit die kombuiskas uit. Jou huisgesin is weer in ’n vaste roetine en die volgende vakansie voel ’n ewigheid weg.

Januarie-uitbranding raak al meer algemeen. ’n Nuwe neiging deesdae is ook dat werknemers juis Januarie kies om te bedank; nie net omdat hulle vir hulle Desemberbonusse gewag het nie, maar omdat die maand soos ’n volle jaar voel.

Hier volg wenke vir maniere om Januarie-uitbranding te voorkom en betyds hok te slaan:

  1. Moenie al jou doelwitte in die eerste maand probeer bereik nie. Stel kleiner doelwitte wat jy maklik kan bereik en bou op na die groter doelwitte. Dit sal jou meer selfvertroue gee om enigiets aan te pak.
  2. Besef dat jy ’n hele jaar het om jou idees en aspirasies uit te leef. Daar is 52 weke in ’n jaar, nie net vier nie.
  3. Raak betrokke by aktiwiteite wat jou van jou werk en alledaagse roetine laat vergeet.
  4. Kom agter die kap van die byl oor wat jou die meeste uitbrand en waarop jy energie vermors. Fokus dan op oplossings om dit te verminder. Of dit nou ’n loopbaanverandering of beter tydsbeplanning is, jy sal dit direk moet aanspreek.
  5.  Brei jou ondersteuningsnetwerk uit. Kry vriendinne saam met wie jy af en toe ’n koppie koffie kan gaan drink en ontlaai, of begin ’n saamryklub van ’n paar mammas om beurte te maak om die kinders smiddae rond te karwei.

Onthou, dit gaan nie oor hoe jy die jaar begin nie, maar oor hoe jy klaarmaak.

Bronne: Forbes, Silver Magazine, IncAfrica