Hawelose met ‘boomstomp doodgeslaan’

Deel hierdie storie / Share this story

BOKSBURG, GAUTENG. – ’n Man is in hegtenis geneem nadat hy glo ’n hawelose by ’n petrolstasie met ’n boomstomp doodgeslaan het. Legendary Guardians Exclusive Protection (LGEP) is op 15 Januarie om 21:23 na ’n toneel by ’n vulstasie in Atlasweg, Boksburg ontbied.

Met hulle aankoms op die toneel het hulle die lewelose liggaam van ’n man aangetref. Ooggetuies het hulle ingelig daar was ’n bakleiery tussen twee mans. Volgens Clinton Festraets, eienaar van LGEP, het hulle die SAPD en paramedici in kennis gestel. Lede van AfriForum het gehelp om die toneel af te baken.

’n Verdagte is in ’n nabygeleë veld aangekeer. Hy is na die vulstasie geneem en op die toneel in hegtenis geneem. Die bakleiery het na bewering oor ’n vrou gegaan. Beide betrokkenes was hawelose inwoners van die area rondom die vulstasie.

’n Boomstomp wat na bewering as moordwapen gebruik is, is op die toneel gevind.

Kol. Mack Mngomezulu, van Boksburg-SAPD het gesê hulle het video-opnames waarop daar duidelik gesien kan word hoe die verdagte na bewering twee persone aanrand. Die ander slagoffer is gehospitaliseer.

Bronne: The Citizen, Legendary Guardians Exclusive Protection, SAPD