ALABAMA, VSA. – Kenneth Smith (58) is die eerste persoon ter wêreld wat Donderdag met stikstofgas in Alabama tereggestel is.
Smith is in 1988 tot die dood veroordeel nadat hy $1 000 deur Elizabeth Sennett se pastoorman betaal is om haar dood te maak. John Forrester, wat ook deur die man gehuur is, is al in 2010 tereggestel. Sennett het tien steekwonde aan haar liggaam gehad.
’n Eerste poging om Smith in 2022 tereg te stel het misluk en het ’n traumatiese effek op hom gehad. Sy regspan het die VSA se hooggeregshof onsuksesvol oor die stikstofgasmetode genader wat volgens hulle uitermate pyn vir hom sou besorg.
Smith is Donderdag ten aanskoue van sy familie van ’n masker voorsien waardeur stikstof vir 15 minute na sy mond en neus gevloei het. Die metode het behels dat alle suurstof in sy liggaam met stikstof vervang word en versmoring veroorsaak.
Die aanklaers het voorspel dat die teregstelling pynloos en amper onmiddellik sou wees. Joernaliste en ooggetuies het egter gesê dat dit wreed was en dat Smith vir minute lank geruk en hortend asem gehaal het. Liggaamsvloeistowwe het ook na bewering by sy mond onder die masker uitgekom.
Smith se laaste woorde was dat Alabama agteruit in terme van menslikheid beweeg het. Hy was 22 jaar oud toe hy Sennett vermoor het.
Familielede van Sennett het die teregstelling as “bittersoet” beskryf. Hulle is verlig dat hy uiteindelik tereggestel is, maar besef dat dit nie vir Sennett gaan terugbring nie.
Bronne: Sky News, CNN, New York Times



