Tienermeisie wat gesin laat vermoor, skuldig

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – Onthantile Sebati (21) het op 6 Desember 2016 gemaak of sy na buite gaan om water uit te gooi, maar inderwaarheid die hek van haar ouerhuis in Mmakau, Noordwes, vir haar neefs Tumelo Mokone (24) en Kagiso Mokone (24) oopgemaak om haar gesin dood te maak. Sebati se pa (42), haar ma (40), swanger suster (19) en broer (6) het die noodlottige aand gesterf.

Solomon Lucky Sebati, wat ‘n polisiekonstabel was, Mmatshepo, ‘n verpleegster by ‘n ouetehuis , Tshegofatso wat ongeveer agt maande swanger was en Quinton, minderjarig, is met die pa se polisiedienswapen doodgeskiet.

Lumka Mahanjana vir die NVG sê Sebati, Mokone en Mokone is op vier klagtes van moord, diefstal, roof met verswarende omstandighede en besit van ‘n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind.

Volgens Mahanjana het die twee Mokone’s vroeër op die betrokke dag na die huis van Sebati gegaan en haar pa se vuurwapen gesteel, waarna hulle die aand teruggekeer het om die moorde te voltrek.

Sebati het haar pa se geparkeerde motor se sleutel aan die Mokone’s oorhandig toe hulle opdaag. Tumelo is die huis in om die gesin uit te wis. Die Mokone’s het met die oorledene se voertuig van die moordhuis weggery net om ‘n paar meter verder in modder vas te sit, waar besluit is om die voertuig agter te laat.

Op 17 Desember het Sepati haarself aan die polisie oorgegee en ‘n verklaring vir erkenning afgelê, waarna die Mokone’s op 18 Desember in hegtenis geneem is. Hulle het ook bekentenisverklarings afgelê, maar het tydens die verhoor onskuldig gepleit.

‘n Verhoor binne ‘n verhoor het plaasgevind omdat die Mokone’s die bekentenisse betwis, maar ‘n regter het beslis die bekentenisse is wel toelaatbaar.

Daar is aan die hof bewys Sepati het die moord op haar familie gereël en het R50 000 aan elk van die Mokone’s betaal. Kagiso Mokone is ook deur middel van vingerafdrukke aan die voertuig verbind. Die drie beskuldigdes is op al die aanklagtes skuldig bevind.

Die regter het gesê die staat het sy saak bo redelike twyfel bewys.

Vonnisoplegging sal plaasvind wanneer die saak op 16 – 19 April voorkom.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.